Topspeurder speel ’n bars op die gholfbaan

Deur Nkhensani Mthombeni

Wanneer Speurder Charlotte Tshuketana nie misdaadsake ondersoek nie, blink sy uit op die gholfbaan.

In die afgelope tien jaar het sy uitgestyg as een van die beste vrouespelers in Limpopo.

Haar gholf het koers gekry toe ’n voormalige kollega, Norman Mathebula van Nkowankowa Polisiestasie, haar aangemoedig het om by die polisie se gholfspan aan te sluit. Eers was dit ’n las vir die 46-jarige wetstoepasser, wat in Dorset gestasioneer is.

“Ek het toe nie ’n benul van die sport gehad nie, maar ek het ingestem om te leer,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.

“Mathebula het my die basiese beginsels geleer; hoe om die stok vas te hou, watter hand mens vir die handskoen gebruik, en wat die syfers op die stokke beteken,” het sy gesê.

Tshuketana sê dit het haar ’n tydjie gekos om te verstaan hoe gholf werk.

“Ek het gesien hoe van my spanmaaks die bal ver slaan, terwyl myne op die grond bly lê. Maar ek het ’n voorliefde vir gholf ontwikkel, en nou is dit deel van my. Dit hou my fiks en help my om stres te verlig.”

Sy het haar span sedertdien by vier nasionale toernooie verteenwoordig, en ’n klomp daarvan gewen.

In Januarie was sy lid van die wenspan in die B-Afdeling van ’n toernooi tydens die Nasionale Polisiedag in Polokwane.

Die toernooi was ’n fondsinsameling ten bate van die SA Polisiediens se Onderwystrust, wat help met die befondsing van gestorwe lede se kinders se opvoeding. Hulle het R3 miljoen ingesamel.

Tshuketana het sertifikate en pryse van die Minister van Polisie, Bheki Cele, en die Polisiekommissaris, Fannie Masemola ontvang. Sy oefen nou vir die Limpopo Goue Kampioenskappe wat in Maart by Euphoria Gholflandgoed plaasvind.

Sy is getroud en die ma van twee meisies, en sy sê sy sou nie sonder haar gesin se ondersteuning kon presteer nie.

Sy moedig ander vroue aan om gholf te beoefen, en verwerp die gedagte dat dit net vir mans is.

In die foto hierbo: Speurder Charlotte Tshuketana saam met Minister Bheki Cele

Fotobron: Verskaf