Kose se resep om 100 te haal? Werk hard, vermei alle euwels…

Deur Buziwe Nocuze

Om met sewe broers en susters groot te word was nie maklik vir Steven Kose nie, maar ter geleentheid van sy 100ste verjaardag, gevier saam met familie en vriende, bejeën hy die lewe as ‘n seën.

“My ouers was streng. Ek moes elke keer terugrapporteer as ek uitgegaan het met my maats. Ek moes altyd tuis wees voor donker,” het hy gesê.

Vandag is die ou man van Nyanga, Kaapstad, dankbaar vir die strawwe liefde wat hy van sy ouers ontvang het.

“My lewe was gegrond op werk en dissipline,” het hy gesê.

“Ek het nooit gerook of alkohol gedrink nie en het gesorg dat ek gesond eet om my liggaam sterk te hou. Ek is ‘n sprekende voorbeeld daarvan dat mens langer leef as jy wegbly van dwelms en al die ander slegte dinge.”

Hy het gesê ten spyte van sy ouderdom het hy nog nooit chroniese medikasie geneem nie.

“Ek drink net pynpille nadat ek die erf skoongemaak het en my knieë seer is.”

Verlede Sondag het die familie bymekaargekom om hom op die hande te dra. Hy is geseën met sewe kinders, 18 kleinkinders en 13 agterkleinkinders.

Kose se vrou is in 2012 in die ouderdom van 79 jaar na ‘n siekbed oorlede. Hulle is in 1952 getroud en het ses dogters en ‘n seun gehad.

Hy is mal oor jogurt en sy gunstelingmaaltyd is stampmielies en krummelpap met suurmelk.

Sy 74-jarige dogter Rose Mjamba dank God dat hy haar pa vir soveel jare gespaar het.

“Dit is ‘n seën om hom steeds in ons huis te hê. Nie baie gesinne is gelukkig genoeg om op ons ouderdom hul ouers by hulle te hê nie,” het sy gesê.

Sy glo nie hulle sal so oud soos hul pa word nie.

“Ek is jonger as hy, maar ek is op chroniese medikasie. Hy is nog vars en gesond,” het sy gesê.

“Hy stap drie keer per week vir 40 minute wanneer hy by my suster gaan kuier en hy weier om taxi’s te neem.”

Thimna Kose, ‘n 16-jarige agterkleinkind, leer glo baie by Kose. “Ek neem sy lewenslesse ernstig op,” het hy gesê.

“Hy vertel my van die dinge wat hy as jongmens ervaar het en ek leer daaruit. Hy verkondig hoe belangrik dit is om almal te respekteer en om mense te behandel soos ek behandel wil word.”

Op die foto hierbo: Steven Kose het sy 100ste verjaardag saam met familie en vriende in Nyanga, Kaapstad, gevier.

Fotokrediet: Buziwe Nocuze