Deur Nadine Theron
“Ek is verpletter. Dis vyf jaar vandat my meisiepop oorlede is en daar is nêrens vordering nie,” het ’n moedelose Carol Petersen gisteraand aan Scrolla.Africa gesê, nadat sy verneem het die saak teen Johan Williams, 53, wat vandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad sou begin, is weer uitgestel.
Petersen se dogter, Chantelle Matthyssen, 24, is in 2018 vermoedelik deur die sogenaamde “Wellington serial killer” om die lewe gebring.
Die ander slagoffers is Maria Isaacs, 33, en Natalie Jonkers, 35. Hulle families wonder nou of reg en geregtigheid ooit sal geskied. By ’n vorige verskyning het Williams ’n pleitoorkeenkoms van die hand gewys.
Williams, wat vyf jaar gelede die lyke van drie vermoorde vroue in vlak grafte op die pad tussen Malmesbury en Wellington aan die polisie uitgewys het, staan tereg op 20 aanklagte wat moord, verkragting, ontvoering en aanranding insluit.
Hy het die vroue na bewering met beloftes van werk gelok, met die doel om hulle te vermoor.
Williams het in 2016 met Matthyssen bevriend geraak en homself glo as ‘n “barmhartige samaritaan” voorgedoen wat haar by ‘n treinstasie bygestaan het.
Sy was die ma van ’n 5-jarige seun en het in Kuilsrivier by Petersen gebly.
In Junie 2018 het Williams vir haar ‘n werksgeleentheid aangebied. Sy het vermis geraak nadat sy die trein na Wellington gehaal het om Williams te ontmoet.
Ná haar dogter sy verdwyning het Petersen daarop aangedring dat die polisie Williams ondervra. Toe hulle versuim, het sy uit protes drie nagte in haar kar voor die polisiestasie deurgebring.
Eers daarna het hulle die saak ondersoek, en Williams in Wellington in hegtenis geneem.
Isaacs, ’n jeugwerker wat landbou studeer het, het twee weke tevore, op 16 Junie 2018, saam met Williams vertrek na ’n werksgeleentheid wat hy glo naby Touwsrivier vir haar gereël het. Sy het haar bejaarde ma op ’n plaas naby Wellington versorg.
Sy is nooit weer lewendig gesien nie.
Jonkers is in 2012 laas gesien toe sy in Williams se motor klim. Hy het glo ’n verhouding met haar tienerdogter gehad.
Haar ma, Klara Davids, sê die polisie het Williams destyds ondervra en laat gaan.
“Dit voel vir my as die polisie Natalie se saak ernstig opgeneem, het sou Chantelle en Maria dalk nog gelewe het,” sê sy.
In die foto hierbo: ‘Wellington serial killer’, Johan Williams
Fotobron: Twitter