Vrou red bababrak uit pitbulls se kake – en neem een veghond as gyselaar!

Deur Karabo Rammutla

Toe Leana Hendricks Donderdag haar seun se hondjie hoor tjank, het sy nie doekies omgedraai nie.

Toe sy buite kom was twee pitbulls besig om die Jack Russell-terriër aan te val.

Hendricks, van Eersterust oos van Tshwane, is ‘n brawe dame. Sy het onmiddellik ingespring, die hondjie bevry en op een van die pitbulle beslag gelê, terwyl die ander een weggekom het.

Sy het gesê die twee honde, ‘n reun en ‘n teef, het die hondjie amper aan flarde geruk.

“As ek ‘n minuut later daarop afgekom het, was ons hondjie nou dood,” het sy gesê.

Sy was van plan om die hond gevange te hou totdat die eienaar dit kom haal het.

Toe die niemand uitkom om die hond op te eis nie het sy haar na Facebook gewend, waar sy gevra het dat die eienaar haar kontak. Sy sê gelukkig het die eienaar van die hond haar pos gesien en gereageer.

“Hy het opgedaag en gelukkig het ons die saak vriendelik opgelos en hy het om verskoning gevra,” het sy gesê.

DBV-inspekteur Siyabonga Mbukutshe het gesê as iemand hulself in Hendrick se skoene bevind, moet hulle die dier wat aangeval is veearts toe neem, ‘n verslag verkry, en dan ‘n saak van dieremishandeling aanhangig maak.

Hy het gesê as ‘n ander persoon se hond jou eiendom betree en diere aanval, kan ‘n klag van opsetlike saakbeskadiging by die aanklag van dieremishandeling gevoeg word.

Op die foto hierbo: Leana Hendricks het ‘n veghond gevang wat amper haar seun se brakkie doodgebyt het

Fotobron: Verskaf