Twee vermis ná swaar reën in KZN

Deur Lungani Zungu

Twee mense word steeds vermis in die vloedgeteisterde KwaZulu-Natal

nadat aanhoudende swaar reën verwoesting in baie dele van Suid-Afrika gesaai het.

Teen gistermiddag het die soektog voortgeduur na ’n 17-jarige graad-11 leerling wat in Ndumo in Ngwavuma in die verre noordelike dele van KZN deur vloedwater weggevoer is.

’n Motoris wie se kar in Mtubatuba meegesleur is, word ook nog vermis.

Honderde mense is dakloos gelaat in Umkhanyakude, Newcastle en Mhlathuze (voorheem Richardsbaai) deur stormreën wat sedert laas Donderdag uitsak.

Werkers en skoolkinders in Nkandla kon nie by hulle bestemmings uitkom nie, deurdat die laagwaterbrug oor die Tugela dae lank onder water was.

Daar is geen sterftes in Gauteng, Limpopo, en Mpumalanga aangemeld nie, maar dié provinsies het ook kwaai deurgeloop.

Talle mense het foto’s van weggespoelde huise en skade aan hulle besittings, soos klere en meubels, op sosiale media gedeel. Brûe is ook op verskeie plekke beskadig.

Die swaar reën sal na verwagting nog dwarsdeur die week voortduur in baie dele van die land, en die regering het inwoners gewaarsku om versigtig en waaksaam te wees.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vloedwaarskuwings vir dele van Limpopo and KZN uitgereik. Modderstortings, rotsstortings en damwalskade kan voorkom.

Ontwrigtende neerslae tref talle provinsies die afgelope tyd genadeloos. In April verlede jaar is meer as 440 mense dood en duisende ander dakloos gelaat ná verwoestende vloede in KZN en sekere dele van die Oos-Kaap.

Baie van die slagoffers bly steeds in haglike toestande in beskutting wat die regering voorsien het.

Ondertussen is vier mense dood in die suidelike dele van Mosambiek na dae van aanhoudende reën, het die land se risikobeheer die naweek gesê.

In die foto hierbo: Vloede in KZN saai steeds verwoesting

Fotobron: Verskaf