Deur Prince Azeel
Die negemalige Grammy-wenner Rihanna het aangekondig dat sy opnuut die verhoog gaan bestyg.
Rihanna sal Sondag haar glorieryke verskyning maak by die Super Bowl-rustydvertoning in Glendale, Arizona, waar die Kansas City Chiefs teen Philadelphia Eagles te staan kom.
Rihanna het vir sewe jaar lank geen aktiewe solo-verhoogoptredes gedoen nie, en haar meestal bepaal by haar modehandelsmerk en eerste baba.
Sy het laas in Januarie 2016 ‘n album vrygestel.
Rihanna het Donderdag met verslaggewers in Phoenix, Arizona, gepraat en onthul hoe ma-wees haar perspektief op die lewe gevorm het en hoe dit haar aangespoor het om na musiek terug te keer.
“Wanneer jy ‘n ma word, is daar iets wat net gebeur (en) jy voel dat jy die wêreld op horings kan neem, jy kan enigiets doen,” het sy gesê.
“Dit was vreesaanjaend omdat ek sewe jaar laas op ‘n verhoog geklim het, maar daar is iets opwindends aan hierdie uitdaging. En dit is vir my belangrik om dit hierdie jaar te doen. Dit is belangrik vir verteenwoordiging, dit is belangrik vir my seun om dit te sien,” het sy bygevoeg.
Verlede jaar het die 34-jarige Barbados-gebore sanger ‘n solo-enkelsnit ter ere van Chadwick Boseman vrygestel, getiteld “Lift Me Up”. Die snit is genomineer vir die Oscars en Academy-toekennings vir die Marvel-vervolgverhaal Black Panther: Wakanda Forever.
Die liedjie was haar enigste solo-enkelsnit in ses jaar.
Toe sy gepraat het oor hoe veeleisend die voorbereidings vir die groot geleentheid was, het sy aan verslaggewers gesê dat sy ander belangrike aktiwiteite vergeet het.
“Ek was so gefokus op die Super Bowl dat ek heeltemal vergeet het van my verjaarsdag (op 20 Februarie),” het sy gesê.
“Ek het heeltemal vergeet van Valentynsdag. Dis net Super Bowl, Super Bowl, Super Bowl,” het sy bygevoeg.
In 2018 het sy ‘n aanbod om by die Super Bowl op te tree van die hand gewys omdat sy die Amerikaanse voetbalspeler Colin Kaepernick se protes teen rasse-onreg ondersteun het.
Foto hierbo: Rihanna
Fotobron: Twitter