Ses Nasies laat Rassie en Jacques ’n uiltjie knip

Deur Lucky Maree

Teen dié tyd het die stof gaan lê ná laasweek se skouspelagtige Ses Nasies-rugby, en die werklikheid skop in.

En jy kan jou verbeel Rassie Erasmus en Jacques Nienaber is nie vreeslik besorg oor wat hulle gesien het nie.

Dis goed en wel om die bal soos iets in ’n piengpongwedstryd te laat rondvlieg om gapings te skep, maar hoeveel botsing met (byvoorbeeld) Evan Roos kan Marcus Smith verduur voordat sy knieë begin knak?

Hoe goed het Skotland gespeel en, in dieselfde asem, hoe swak het Engeland gespeel? Steve Borthwick se besluit om twee losskakels te kies, dui op besluiteloosheid. Marcus Smith en Owen Farrell is albei in die speelgroep, maar ons sal moet sien of hy hulle weer langs mekaar inspan. Hy sal een of ander tyd moet besluit wie hy wil hê.

Kan enige van die twee spanne die Springboke klop? Borthwick is nog ongetoets, terwyl Skotland se Gregor Townsend homself keer op keer bewys het. Duhan van der Merwe se twee manjifieke drieë het die sege beklink, maar dis te betwyfel of hy sy wonderwerke kan herhaal.

Daar is een feit wat niemand kan miskyk nie: waar brute krag inkom, troef spelers uit die suidelike halfrond hulle noordelike eweknieë. Of dit die plaaslike vleis (verskoon die woordspeling) of die sonskyn is, weet ons nie, maar Townsend sal bewus wees daarvan.

Genadiglik het Alun Wyn Jones nie Wallis se span gehaal nie, so hy kan rustig wegwaggel en sy moeë rug laat rus, maar Warren Gatland moet bly waar hy is. As hy jou vandag aan ’n uitgeputte oorlogperd herinner, stel jou voor hoe hy oor sewe maande gaan lyk, ná die Wêreldbeker.

Italië? Jonk, gretig, vinnig, toegewyd, skitterend afgerig deur Kieran Crowley… maar nee.

Hulle gaan niemand bedreig nie, allermins die Springbokke. (Rassie kan nie die fout wat Heyneke Meyer teen Japan gemaak het herhaal nie, kan hy?)

As Frankryk die Wêreldbeker wil wen, moet hulle minder windgat wees en hulleself regruk. Hulle kan Ierland heel moontlik hierdie naweek klop, mits hulle die briljante rugby speel waartoe almal weet hulle in staat is, maar ná hulle suurbeksege teen Italië verlede week, is hulle net in hulle eie oë goed genoeg om die Beker te wen.

Die span wat oorbly, is Andy Farrell se Ierland. Dís die manne wat Erasmus en Nienaber gaan dophou wanneer hulle in die Aviva-Stadion in Dublin op die veld draf.

Dis nog vroeg, maar Suid-Afrika se opmars na  Frankryk 2023 is ’n droom tot hier toe. Erasmus en Nienaber het probleme op losskakel en heelagter, maar hulle het opsies – en die Stormers se afrigter, John Dobson, lyk na die man wat die raaisel gaan oplos.

Dis jammer die Springbokke se volgende wedstryd is eers op 8 Julie, teen Australië op Loftus Versfeld.

En wie kan vergeet dat Nieu-Seeland en die Bokke mekaar op 15 Julie pak? Dis nog vyf maande weg, maar dit lyk asof Suid-Afrika die voortou neem, al is dit net omdat Ian Foster altyd gereed is om goeie rugby te speel, terwyl Rassie en kie meer in wenrugby belang stel.

Lees Scrolla.Africa se Pick of the Sport om te sien hoe jy hierdie naweek se Ses Nasies-aksie kan volg.

In die foto hierbo: Marcus Smith: ‘Evan Roos aanvat? Grap jy?’

Fotobron: Twitter