Die hart van ’n Franse vrou uit die negentiende eeu wat feitlik ongeskonde gebly het, laat wetenskaplikes kopkrap.
Die Katolieke Kerk het ’n span wetenskaplikes van Parys se hospitaalstelsel gevra om die hart van die gebedsleier Pauline Jaricot te ontleed. Sy is in 1862 dood en haar hart het bewaar gebly.
Die vrou, wat ook ’n welsynwerker was, is laasjaar deur Pous Franciskus salig verklaar. Hy het gesê sy het ’n driejarige dogtertjie, wat in ’n koma was nadat sy in kos verstik het, se lewe gered.
Saligmaking gee erkenning aan ’n afgestorwene se reg om die Hemel binne te gaan. Hulle mag dan namens enigeen werk wat in hulle naam bid.
Daar is in die verlede vermoed dat Jaricot aan ’n hartkwaal dood is. Die hart is in ’n kerk in Frankryk bewaar, het The Times berig.
Maar na verskeie toetse het Dr Philippe Charlier, a forensiese wetenskaplike, en sy span in die International Journal of Molecular Studies geskryf daar is geen teken van ’n hartkwaal nie.
Plaaslike Katolieke vertel ’n verhaal waarin Jaricot wonderbaarlik genees is op ’n besoek aan Rome in 1837.
Die wetenskaplikes het ook berig dat daar geen teken is dat die hart opsetlik bewaar is nie.
“Daar is geen bewys van menslike ingryping nie. Die hart het spontaan bewaar gebly, wat deur die Rooms Katolieke Kerk as ’n wonderwerl beskou kan word,” het die span geskryf.
Voordat Jaricot as heilige verklaar kan word, moet ’n tweede wonderwerk in haar naam geskied.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: Pauline Jaricot se bewaarde hart
Fotobron: Twitter