Momo se baba hét toe ’n pappa

Werkers by ’n dieretuin in Japan was verbluf toe ’n withand-gibbon met die naam Momo in  2021 swanger geraak het… in ’n hok waarin sy alleen bly.

Die Kujukushima Dieretuin en Botaniese Tuin in Nagasaki het onlangs aangekondig dat die raaisel ná twee jaar opgelos is: die pa is Itoh, ’n gibbon-mannetjie, ook met sy eie hok. Moet nooit die liefde onderskat nie!

Jun Yamano, die dieretuin se hoof, het aan die tydskrif Vice gesê dit het so lank gevat om die pappa te identifiseer omdat Momo só beskermend teenoor haar baba was dat hulle nie naby genoeg kon kom om ’n DNA-monster te oes nie.

Werkers het ’n piepklein gaatjie – ongeveer ’n vierkante sentimeter – in ’n plank tussen Momo se hok en ’n vertoongebied gevind, waar Itoh tyd deurgebring het. Hy is duidelik nie buitensporig welbedeeld nie, en het die liefdesdaad deur dié gloriegaatjie verrig.

Baba was 213 dae later daar. Die dieretuin beplan nou om Itoh by Momo en haar kleinding te laat intrek.

Withand-gibbons is ’n bedreigde spesie, klein van postuur, wat in Suidoos-Asië aangetref word. Paartjies bly gewoonlik lewenslank saam, volgens Business Insider.

Hulle kan enige tyd van die jaar paar. Die ma’s doen die meeste van die grootmaakwerk, hoewel die pa’s nou en dan ’n deeltjie bydra.

Kinders bly gewoonlik by hulle ouers totdat hulle op omtrent sewe seksueel volwasse is.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

In die foto hierbo: ’n Withand-gibbon

Fotobron: National Geographic Kids