Koning se nasate wil skeppers van Shaka-reeks hof toe sleep

Deur Linda Ximba

Die nasate van Koning Shaka se ma, Koningin Nanda, wil die vervaardigers van die langverwagte TV-reeks Shaka Ilembe dagvaar. Hulle sê hulle is geld vir hulle bydrae belowe, maar gaan nie ’n sent kry nie.

Die Mhlongo en Mthethwa families sê hulle is met mooipraatjies om die bos gelei tydens die maak van die reeks, wat vir Mzansi Magic op DStv bestem is.

Die reeks, wat deur Nomzamo Mbatha vervaardig is, vertel die verhaal van Koning Shaka, wat talle ander stamme verower en later die magtige AmaZulu koningkryk geskep het.

Mhlathuze Mhlongo, een van die koningin se nasate, het aan Scrolla.Africa gesê hulle het regsadvies oor die saak ingewin oor stappe wat hulle volgende kan doen.

“Hierdie mense het sonder toestemming Koninging Nanda se graf kom verfilm en allerhande goed hier gedoen. Toe ons weer hoor, het hulle die res van die produksiewerk in Johannesburg klaargemaak,” het Mhlongo gesê.

“Hulle het ons laat verstaan dat die Mhlongos, wat bloedverwante is van een van die magtigste tradisionele konings van die wêreld, sou baat by hierdie groot projek.”

Phila Mthethwa, van die kwesakaMthethwa nedersetting in Empangeni in Noord-KwaZulu-Natal, waar Koning Shaka grootgemaak is, sê hulle is gekrenk omdat die filmmakers hulle in die steek gelaat het.

“Hulle het ons saggemaak deur ons na ’n spogplek in Balito toe te vat, waar ons aan hulle die verhaal die die koning en sy ma vertel het. Nou het hulle hulle rûe op ons gedraai, en gesê ons kry nie ’n sent nie.”

“Ons het gehoop ons gaan iets kry om die koning en koningin se nalatenskap te bewaar en ons armoedige nedersetting op te hef. Ons sien hulle in die hof.”

Sterre soos Wiseman Mncube, Lemogang Tsipa, Thembinkosi Mthembu en Duma Ntando verskyn in Shaka Ilembe.

Die regisseur, Angus Gibson het nie op Scrolla.Africa se boodskappe gereageer nie.

In die foto hierbo: Nomzamo Mbatha

Fotobron: Verskaf