Teleurstelling toe net ses uit 5 000 hulle beloofde aktes kry

Deur Anita Dangazele

Na ses lang jare kry inwoners van NU 29 in Motherwell, Gqeberha, volle besitreg van hulle HOP-huise. Die Nelson Mandela Munisipaliteit het Dinsdag helaas net ses van die 5 000 betrokke aktes vir die oorhandigingseremonie gereed gehad. 

Die res moet nou tot April wag vir goedkeuring van die oordragprokureur se kantoor. 

Tweehonderd inwoners is na die seremonie genooi, en die wat met leë hande moes wegstap, was erg teleurgesteld.

Een van dié groep, Thembinkosi Ndleleni, het die algemene gevoel opgesom. “Ek is bly ek het my eie huis, maar dis vreemd dat hulle ons genooi het as hulle geweet het hulle kan nie ons aktes vir ons gee nie.”

’n Ander inwoner, Bulelwa Dumako, is nou bang sy kry nie die akte vir die huis waarin sy nou al ses jaar lank bly nie. Daar is oorspronklik ’n erf in ’n ander gebied aan haar toegesê, maar haar huisplan het nie daarop gepas nie.

Die munisipaliteit se politieke hoof van menslike vestigings, Thukela Zumani, het gesê erwe wat verkeerdelik toegesê is, was ’n uitdaging vir sy direktoraat. Hy het die teleurgestelde inwoners om verskoning aan gevra.

Sindiswa Bishini, een van die gelukkige sestal wat wel hulle aktes ontvang het, het aan Scrolla.Africa gesê sy is dankbaar dat die munisipaliteit haar waardigheid in ere herstel het.

“Ek het 22 jaar lank in ’n plakkershut gebly, maar danksy die regering bly ek die afgelope ses jaar in my huis, en van vandag af is dit regtig myne.”

Soos die geval is met talle informele vestigings om die metro is die gebied in 2010 met onwettige landbesetting opgeëis. Die HOP-huise is uiteindelik gebou ná ’n magstryd tussen inwoners en die munisipaliteit oor basiese dienste.

In die foto hierbo:  Sindiswa Bishini ontvang haar akte van ’n  munisipale verteenwoordiger, Thukela Zumani

Fotobron: Anita Dangazele