Deur Buziwe Nocuze
Om beide mediese dokter en sangoma te wil wees is inderdaad ‘n ongewone kombinasie.
‘n Leerling sangoma aan die Hoërskool ID Mkhize in Kaapstad droom daarvan om eendag albei te kan wees – maar sê sy word so erg geboelie dat sy daaraan dink om haar planne te laat staan.
Die Graad 12-leerder, wie se naam nie genoem is nie, het aan Scrolla.Africa gesê haar skoolmaats beskuldig haar daarvan dat sy siektes versprei.
“Wanneer ‘n mede-leerder siek word, kyk hulle almal my kant toe,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.
Sommige sê sy moet “die siekes genees” met haar toorkuns, terwyl ander haar van heksery beskuldig.
“Dit is elke dag vir my moeilik om skool toe te gaan.”
Die 17-jarige matrikulant is nou keelvol vir die vernedering en afknouery.
“My enigste sonde is om ‘n sangoma te wees. Ek word sleg behandel. Ek kan nie meer die geboelie verdra nie,” het die tiener bygevoeg.
Sy steek haar sangoma-drag onder haar skoolklere weg, maar is onlangs deur die skoolhoof gevra om nie meer die sangoma-uitrusting te dra nie.
“Ek trek my klere en armbande onder my skooldrag aan sodat niemand daaraan blootgestel is nie, maar is altyd in die pekel met die onderhoof,” het sy gesê.
Sy is deur die skool verbied om haar tradisionele drag te dra.
Sommige mense glo dat tradisionele genesers siek word sodra hulle ophou om hul kuns te beoefen of hierdie kledingstukke aan te trek.
Die leerder beweer sy het haar sig tydelik verloor nadat sy haar sangoma-klere uitgetrek het.
“Ek blind geword en my sig eers teruggekry nadat ek dit weer aangetrek het,” het sy verduidelik.
Nondyebo Vumazonke verstaan nie hoekom haar dogter geteiken word nie.
“Sy is nie die enigste sangoma by die skool nie. Hoekom word sy verneder?” vra die ma.
“Ek kan haar nie dwing om te bly waar sy afgeknou word nie. Die departement moet ingryp. My kind se opvoeding is belangrik.”
Unathi Booi, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, het gesê die skool spreek die saak aan en kyk na maniere om voorvaderlike roepinge te hanteer.
“Intussentyd word leerders wat deur die voorvaders geroep is, toegelaat om vereiste items soos die armband te dra,” het Booi gesê.
Die departement is in gesprek met die Departement van Kultuursake en Sport en tradisionele genesersorganisasies in die Wes-Kaap om die bestuur van voorvaderlike roepinge in skole te bespreek.
Op die foto hierbo: ‘n Graad 12-leerder wat ook ‘n sangoma is
Fotobron: Buziwe Nocuze