Pensioenaris met dood gedreig deur besete bestuurder

Deur Doreen Mokgolo

David Chauke word nou al maande lank deur ‘n taxibestuurder geboelie en geslaan – en  nou vrees hy vir sy lewe.

Die verskrikte pensioenaris van Tsakani in Ekurhuleni het gaan wegkruip nadat hy laas maand deur die einste besete taxibestuurder aangerand is.

Die moeilikheid het verlede Junie begin toe Chauke geëis het dat die plaaslike taxi’s ophou om voor sy hek te parkeer en sy oprit te versper.

Hy sê die bestuurders het ook langs sy veiligheidsheining watergelaat – wat ‘n aaklige reuk veroorsaak het.

Terwyl al die ander bestuurders om verskoning gevra het, het een van hulle geweier om te luister. Sy het Chauke aangevat omdat hy dit gewaag het om haar te berispe en gesê dat sy nie deur ‘n buitelander vertel sal word waar om te parkeer nie.

Toe het sy gewelddadig geword en die bejaarde man begin slaan.

En die probleme het nie daar end gekry nie. Sy het aangehou om hom te viktimiseer en nooit ‘n geleentheid om voor sy oprit te parkeer laat verbygaan nie.

Chauke het aan Scrolla.Africa gesê dis pynlik om elke dag by haar te moet pleit en smeek om haar voertuig te verskuif.

“Sedertdien beledig sy my by elke moontlike geleentheid, ten aanhore van die bure en ander bestuurders.”

Chauke is een keer so erg deur die vrou aangerand dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.

“In Desember het sy my so erg aangerand dat ek in die hospitaal beland het. Sy het verder gedreig dat sy met my sal klaarspeel as ons ooit in die openbaar sou ontmoet,” het hy bygevoeg.

Verlede Woensdag het die verdagte na bewering gepoog om daad by woord te bring toe sy teen ‘n hoë spoed nadergejaag het in ‘n poging om hom om te ry.

“Ek was baie gelukkig om met my lewe daarvan af te kom. Toe sy besef sy het my gemis, het sy haar motor tot stilstand gebring en my aangerand, totdat ander bestuurders en my vrou my tot hulp gesnel het.

“Ek is moeg daarvoor om te vrees dat sy my eendag gaan vermoor. Ek verlaat slegs saans my huis, want ek weet dat hulle in die vroeë oggendure ophou werk en huistoe gaan,” het hy bygevoeg.

Springs Taxi Vereniging se skakelbeampte, Lyric Tau, het gesê hulle ondersoek die saak en verwag dat die betrokke bestuurder vir ‘n verhoor aangetree sal word.

“Sodra die ondersoek voltooi is, sal ons na die slagoffer uitreik met nuwe inligting.

“Ons het die terrein besoek en die uitdagings opgemerk wat die slagoffer in die gesig staar, en ons sal probeer om alternatiewe maniere te vind om die bestuurders en familie te akkommodeer,” het hy bygevoeg.

Tsakani-polisiewoordvoerder, Sersant Lerato Mngomezulu, het bevestig dat hulle ‘n saak van aanranding ondersoek.

“Die verdagte moet nog in hegtenis geneem word en ondersoeke is steeds aan die gang,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: David Chauke

Fotobron: Doreen Mokgolo