Reuse aardbewing ruk Turkye en Sirië aan flarde

‘n Reusagtige aardbewing van 7.8 op die Richterskaal het Turkye en Sirië gisteroggend getref, en tot dusver die lewens geëis van meer as 2,300 mense.

Familielede, noodpersonneel, soldate en internasionale vrywilligers het die heeldag lank onvermoeid gewerk om mense te red wat in puin vasgekeer is.

Deur die loop van die dag het die dodetal dramaties toegeneem en, na een van die dodelikste natuurrampe die afgelope paar jaar, lyk dit asof die lyketal nog verder gaan styg.

Die eerste aardbewing het in die middel van die nag plaasgevind – omstreeks 4vm plaaslike tyd – en is glo deur mense in Libanon, Griekeland, Israel, Ciprus en Irak gevoel.

Dit het gesentreer op die grens van suidoos-Turkye en Sirië, en het verwoesting gesaai in die groot Turkse stede Gaziantep en Adana.

Net ‘n paar uur na die eerste aardbewing, het nog ‘n skudding wat amper net so kragtig was, nog honderde geboue vernietig.

Meer as 2,800 geboue het ineengestort, met baie mense wat steeds onder die puin vasgekeer is.

Ander nasies en internasionale organisasies het reeds bevestig dat hulle vrywilligers en noodhulp na beide Turkye en Sirië gestuur het, aangesien tyd vinnig uitloop vir diegene wat steeds vasgekeer is.

Newcastle United het aangekondig dat hulle in spanning wag om te hoor waar hul uitleen Ghanese speler, Christian Atsu, hom bevind.

Die historiese 2,200 jaar oue Gazintap-kasteel is byna heeltemal verwoes, met net ‘n hoop puin en stof in sy plek. Daar word gevrees dat baie ander belangrike historiese terreine verlore is na die skuddings.

Vanaf Maandagaand is minstens 1,498 mense in nege Turkse provinsies dood, terwyl minstens 810 mense in Sirië dood verklaar is.

Vernietiging op hierdie skaal is dekades gelede laas in Turkye ondervind, maar vir diegene in Noordwes-Sirië is ineengestorte geboue en wydverspreide sterftes ‘n meer algemene stand van sake. Die land is die afgelope 12 jaar in ‘n burgeroorlog verwikkel.

Saamgestel deur Arthur Greene

Op die foto hierbo: Meer as 2,800 geboue het ineengestort in die aardbewing wat Turkye en Sirië Maandag getref het