Oubok, 85, wil gesin begin met sy 24-jarige groenblaartjie

Toe Miracle Pogue, 24, die eerste keer in 2019 vir 85-jarige Charles raakgekyk het in ‘n wassery in Mississippi, was dit liefde met eerste oogopslag.

Hulle was eers net vriende, maar kon nie hul hande van mekaar afhou nie en die verhouding het gou ‘n romantiese wending geneem.

Charles, ‘n afgetrede eiendomsagent, het in Februarie 2020 die jawoord gevra en die egpaar het verlede somer die knoop deurgehaak.

Miracle sê sy het eers later besef hoe oud haar man nou eintlik is, toe Charles haar vertel het dat hy in 1937 gebore is.

“Ek het nooit eintlik sy ouderdom oorweeg nie, ons wou net sien hoe dinge gaan. Ek het gedink hy is miskien 60 of 70, omdat hy so goed daarvan uitsien,” het sy gesê.

Miracle het gesê haar 45-jarige ma, Tamika, en haar oupa Joe Brown, 72, het die verhouding van die begin af goedgekeur.

Maar haar pa was moeiliker om te oortuig. Sy sê hy’t sy gevoelens ongeveer as volg uitgedruk: “Hel nee, mevrou – glad en geensins nie.”

Haar oupa, wat 13 jaar jonger as haar gade is, was egter aan haar kant.

“My oupa het gesê as ek gelukkig is en dit is wat ek wil doen, dan is hy gelukkig,” het sy verduidelik.

Miracle het aan die New York Post gesê dat, as haar pa nie hul troue bygewoon het nie, hy haar vir altyd sou verloor.

“Ek het vir hom gesê ek het sy ondersteuning nodig, en dat hy my na die preekstoel toe moet vergesel,” het sy bygevoeg.

Die eertydste eiendomsagent is halsoorkop verlief op sy veel jonger vroutjie, en sê hul troudag was wonderlik – die heel beste dag van sy lewe.

“Die ouderdomsverskil is glad nie ‘n probleem nie.”

Charles het gesê mense het hul eie stemme en menings, veral aanlyn, so hulle doen net hul eie ding.

“Ons sien uit daarna om saam met ‘n gesin te begin,” het hy vertel.

Miracle sê hulle maak planne vir IVF en sy hoop vir ‘n kroos van twee saam met Charles. Sy is weliswaar bekommerd dat sy ouderdom hulle sal verhoed om kinders te verwek, maar sy handhaaf ‘n oop gemoed.

Alhoewel Charles dalk sterk lyk terwyl hy energie en entoesiasme uitstraal, erken Miracle daar is tye dat sy haar wel kommer oor sy gesondheid.

Maar op die oomblik maak die egpaar die beste van elke dag tot hul beskikking.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Miracle Pogue en manlief Charles

Fotobron: New York Post