Deur Karabo Rammutla
Al die sprekers by sy begrafnis was dit eens dat Vusi MaR5 bacardi-musiek die hoogtes ingestuur het.
Terwyl sy familielede, kinders en vrou, Sana Mosoeu, geknak was deur die verlies van hul geliefde, het medemusikante gewonder of hulle ooit die leemte wat hy gelaat het sou kon vul.
Die trefferskepper van “Chomi ke changitse”, wie se regte naam Itumeleng Mosoeu was, is Sondag ter ruste gelê in sy tuisdorp Mabopane, noord van Tshwane.
Die sanger is buite ‘n klub doodgeskiet ná sy optrede verlede Maandag by ‘n Magents-stokvel in Soshanguve Uitbreiding 17.
Die begrafnisdiens is bygewoon deur amptenare van die Stad Tshwane en die Gautengse LUR vir Kuns en Kultuur, Morakane Mosupye. Die somber aanvang van die seremonie is vinnig vervang met ‘n viering van sy lewe, toe kunstenaars en dansers saam met wie hy gewerk het die verhoog bestyg het.
Sy tante, Esther Mnisi, het gepleit by die moordenaar, wat steeds op vrye voet is aangesien die polisie nog geen arrestasies gemaak het ná die moord nie.
“Daar is klomp onskuldige mense daar buite. Hou asseblief op. Dit is genoeg, julle het hierdie familie seergemaak. Moet asseblief nie ‘n ander familie onderwerp aan wat ons nou deurmaak nie.”
Mnisi het gesê Vusi MaR5 het sy loopbaan begin deur by stokvels op te tree. Sy sê hy het ook by geleentheid by haar kroeg opgetree, maar moes ophou toe hy te gewild geword het.
“Hy het vir kliënte gedans en as ek hom berispe het, het hulle dit teen my gehou. Ek het opgehou om stokvels by te woon en hom laat oorneem, maar hy het groter bekendheid gewerf en kon nie meer by my kroeg optree nie, want ek kon nie al sy aanhangers akkommodeer nie.”
Sy vriend en kollega, Enny Man the Guitar, het gesê hy kon in sy wildste drome nie Vusi se verlies voorsien nie.
“Verlede Woensdag het ons ‘n ateljeesessie gehad en musiek opgeneem. Hy het soveel planne gehad en ons het geskerts dat hy sal moet ophou oudword as hy al sy planne wou laat werk. Min het ons geweet dat hy ‘n baie kort tydjie oor het,” het hy gesê.
Hy het gesê hoewel hulle bang is, sal hulle in MaR5 se naam voortgaan om hul aanhangers te vermaak.
“Hulle probeer ons keer om ons aanhangers te vermaak, maar ons sal nie terugdeins nie, hulle sal nie hul sin kry nie,” het hy gesê.
Na die begrafnis het die rouklaers by Mabopane Shisa Nyama bymekaargekom vir ‘n na-trane-betragting.
Op die foto hierbo: Vusi MaR5 is Sondag in Boekenhout, Mabopane ter ruste gelê
Fotobron: Karabo Rammutla