TV-reeks fokus op hoë tienerswangerskapsyfer

Deur Nkhensani Mthombeni

Die kommerwekkende aantal swanger leerders in die land het die ster van Giyani Land of Blood, Fumani Shilubana, gedryf om ‘n mini-reeks getiteld Pregnant High te vervaardig.

In die eerste kwartaal van vanjaar het Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, opgemerk dat 90,000 leerlinge van tussen 10 en 19 jaar regoor die land swanger was in die tydperk April 2021 tot Maart 2022.

Dit was ‘n yslike toename in vergelyking met die 36,000 swangerskappe wat oor dieselfde tydperk in 2021 aangemeld is.

Die reeks draai om die hoofkarakter, ‘n briljante jong meisie genaamd Bonolo, wat met die verkeerde vriende begin rondhang. Dit dryf haar uiteindelik om haar kêrel te los en veroorsaak dat sy by ouer mans slaap, insluitend ‘n onderwyser.

‘n Herrie breek los by die skool wanneer Bonolo swanger raak – en sy kry die wind van voor wanneer sy probeer bewys dat dit die skuld van ‘n opvoeder is.

Die karakter word vertolk deur Khanyiwe Jiyane, ‘n 23-jarige akteur van Daveyton. Jiyane het gesê die karakter het haar beïndruk, want sy laat nooit toe dat vriende haar forseer om verkeerde besluite te neem nie.

Shilubana, die regisseur en vervaardiger van die reeks, het aan Scrolla.Africa gesê die doel van die produksie is om kwessies wat die samelewing raak te dokumenteer en aan te spreek. “Die steeds groeiende tienerswangerskapneiging in ons skole is kommerwekkend.

“Skole het die vak lewensoriëntering wat seksuele opvoeding voorsien. Die Departement van Gesondheid bied ook kondome en voorbehoedmiddels gratis aan, maar dit lyk of niks werk nie,” het hy gesê.

Hy sê die reeks het ten doel gehad om op meer te fokus as net die wangedrag van leerders, en vertel ook stories waarby onderwysers betrokke is, wat soms vir swangerskappe verantwoordelik is.

“Ons wil ook praat oor die vakbonde wat hierdie onderwysers verteenwoordig en nie omgee vir die welstand van die meisies nie,” het hy gesê.

Pregnant High is die eerste onafhanklike produksie wat deur Yerhu Film Commission vervaardig is, gestig deur Shilubana en ses medewerkers. Die nuwe reeks sal binnekort op die Yerhu YouTube-blad uitgesaai word.

Op die foto hierbo: Die kameraspan tydens verfilming saam met vervaardiger Fumani Shilubana

Fotobron: Verskaf