MPHO PHALATSE MORS MET VERKEERDE MAN

Deur Zukile Majova, Politieke Redakteur

As iemand ‘n opstopper verdien is dit DA-leier John Steenhuisen.

En, vars van haar stryd met die ANC vir die Stad Joburg, weet Mpho Phalatse hoe om ‘n ou bloedneus te moker.

Nou maak die voormalige burgemeester van Johannesburg gereed om Steenhuisen die stryd aan te sê vir die DA se toppos.

Maar Dr Phalatse kies die verkeerde geveg.

Hoe kan een van die voorbokke in die wedloop om die pos as premier van Gauteng, haar energie daarom mors om DA-leier te wil wees?

Eerstens is dit ‘n groot titel maar een sonder mag of invloed.

En tweedens is dit ‘n geveg wat sy nie kan wen nie.

Toe sy Maandag haar planne voor die verkiesingskongres in April aankondig, het sy geen steun van DA-raadslede in Tshwane, Ekurhuleni of Mogale City gehad nie; en net ‘n paar stemme in die Johannesburgse koukus.

So ‘n yslike veldtog met net twee maande speeltyd oor vereis volledige onderskrywing deur die DA in haar tuisprovinsie, versterk deur steunwerwing van afvaardigings in ander provinsies waar sy nie eintlik bekend is nie.

Al sou sy dit regkry, is dit ‘n bakleiery oor ‘n been met geen murg nie. Almal weet die ware leier van die DA is Helen Zille, voorsitter van die DA Federale Raad.

Sy bestuur die party; trap op haar tone en jy’s ‘n gedane saak.

Phalatse is waarskynlik die vriendelikste, mees ervare en bekwaamste premierskandidaat vir ‘n koalisie van opposisiepartye wat in 2024 by die ANC mag oorneem.

Alles dui op die moontlikheid dat Gauteng ná die nasionale algemene verkiesing in 2024 deur ‘n koalisieregering bestuur sal word.

Die ANC het die provinsie in 2019 met 50.09% gewen, en net 36.06% van die Gautengse stemme tydens die November 2021 munisipale verkiesing ontvang.

Tydens dieselfde munisipale verkiesings het die DA 28.7% gekry, die EFF 11.89% en ActionSA 9.43%.

Gautengse kiesers is nou selfs meer teleurgesteld in die ANC-regering weens beurtkrag, die koalisiebestuursgemors in metro’s, en swak dienslewering.

Phalatse het die onderhandelingsvaardighede, die geduld en ervaring wat benodig sal word om ‘n koalisieregering te vorm wat die land se ekonomiese spilpunt kan bestuur.

Sy moet haarself as premierskandidaat beskikbaar stel, met ‘n duidelike plan om Gauteng van beurtkrag te bevry.

‘n Vuil straatgeveg met Steenhuisen is ver benede haar.

Groot asseblief Dr Phalatse: spaar jou kragte en staan vir die pos van Gautengse Premier.

Op die foto hierbo: Mpho Phalatse

Fotobron: @MphoPhalatse1