Liplek-lekker fynproewersrugby

Sharks were dominant in the scrums during the United Rugby Championship 2021/22 match between the Sharks and Stormers held at Kings Park in Durban on 29 January 2021 ©Gerhard Duraan/BackpagePix

Deur Lucky Maree

Hierdie naweek is daar net een wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap – maar dis ʼn grote. Vir die res van die wêreld is dit net nog ʼn wedstryd, maar vir Suid-Afrikaners is dit soos ʼn outydse Curriebeker-finaal, Natal teen die WP! 

Wat die stryd tussen die Stormers en die Sharks in Durban nog interessanter maak, is dat die twee breiers teenpole van mekaar is.

Oor ʼn tydperk van tien jaar het Neil Powell sy stempel op sewesrugby afgedruk. Die laaste keer dat hy openlik op kamera geglimlag het, is toe die Blitsbokke laasjaar goud by die Statebondspele in Birmingham gewen het. Hy vat sy rugby doodernstig op. 

Daarteenoor staan die flambojante John Dobson, wat daarvan hou om die spelers vrye teuels te gee. Dit het laasjaar in dié toernooi se eindstryd gewerk, maar vandag is die Stormers se eerste sending om die Sharks in die skrums aan te vat.

En dan moet hulle nog klaarkom sonder Evan Roos. Wie gaan sy rol oorneem? Dáái is ʼn groot vraag. 

Dan is daar die Sesnasies-reeks, waar die drie gunsteling veels te sterk lyk vir hulle teenstanders. Maar ’n rugbybal wip waar hy wil.

Ierland moenie té selfversekerd teen Warren Gatland se Wallis-span opdraf nie. Dis jammer dat Leigh Halfpenny se rugspasma hom uit die wedstryd hou. Nou gaan ons moet wag om te sien hoe of hy so goed op losskakel as op heelagter en vleuel sal vaar. 

Engeland behoort Skotland in die grond in te hol – mits Steve Borthwick se agt veranderinge nie die span se ritme versteur nie.  Hy vat ʼn groot kans om Marcus Smith (lossakel) en kaptein Owen Farrell (senter) gelyktydig op die veld te hê. Miskien stamp die twee sterk persoonlikhede so hard koppe dat hulle vergeet hulle het ʼn wedstryd om te wen.

Niemand weet ooit watter Franse span opdaag vir die wedstryd nie – nie eers die Franse self nie Dit is nie net ʼn groot Sesnasiesvraag nie, maar ook ʼn Wêreldbekervraag.

Daarteenoor speel Italië onder die Kiwi Kieran Crowley met meer dissipline en veggees as vroeër.  Nee, niemand dink Italië kan wen nie, maar moenie dink hulle gaan sommer lê nie.

Hierdie is nie ʼn naweek vir bier en ʼn dik rump steak op die braai nie. As jy weet waarna om op te let, gaan dit ʼn dag wees vir ʼn lekker fillet en ʼn geurige rooie in die glas. Fynproewersrugby.