Pous Franciskus het die “ekonomiese kolonialisme” wat die vasteland teister veroordeel toe hy ‘n skare van meer as 1 miljoen mense in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toegespreek het.
Toe die pous met sy vyfdag Afrika-toer in Kinshasa begin het, was die strate gevul met duisende mense wat hom met vlae en gejuig verwelkom het.
Maar toe hy by die presidensiële paleis begin praat, het die luidrugtheid vinnig in doodse stilte verander.
“Vir almal van julle in hierdie land wat julself Christene noem maar gewelddadig is… sê die Here ‘lê julle wapens neer, omhels barmhartigheid’,” het hy gesê.
Die DRK se massiewe rykdom van natuurlike hulpbronne veroorsaak al vir dekades lank oorloë en grootskaalse uitbuiting.
Dit bly een van die wêreld se armste nasies, wat die geleentheid skep vir ryker lande om na hartelus te plunder.
“Politieke uitbuiting het plek gemaak vir ekonomiese kolonialisme wat ewe verslawend was,” het die 86-jarige heilige in Italiaans gesê.
“Hou jul hande af van die Demokratiese Republiek van die Kongo, en van Afrika… Dit is nie ‘n myn om te stroop of ‘n terrein om te plunder nie,” het hy voortgegaan. “Die gif van hebsug het sy diamante met bloed besmeer.”
Onwettige handel in diamante in die DRK is deurspek met kinderarbeid en het reeds ontelbare konflikte gefinansier, deels aangevuur deur ‘n oorsese aanvraag na hierdie edelstene.
“Ons mag nie gewoond raak aan die bloedvergieting wat hierdie land al dekades lank kenmerk, en wat miljoene sterftes veroorsaak nie,” het die pous gesê.
Die geskiedkundige aangeleentheid is die eerste keer sedert 1985 dat die Katolieke Kerk se hoof die DRK besoek, wat die tuiste van sowat 45 miljoen Katolieke is.
Franciskus sal Vrydag na die oorloggeteisterde Suid-Soedan reis, waar die Aartsbiskop van Canterbury, wêreldwye leier van die Anglikaanse Kerk, by hom sal aansluit.
Saamgestel deur Arthur Greene
Op die foto hierbo: Franciskus ry met sy pousmobiel deur die strate van Kinshasa