Mathanga fiks en reg vir Wêreldkampioenskappe

Deur Thathe Msimango

Mbuleli Mathanga, wat al twee Suid-Afrikaanse veldlooptitels gewen het maar daarna deur beserings geteister is, is fiks en gereed vir die Wêreld Veldloopkampioenskappe, wat op 19 Februarie in Bathurst, Australië begin.

Daarna gaan hy veldloop vir padwedlope verruil, en hy wil graag vanjaar sy marathon-debuut maak.

Hy is lid van ’n sterk SA span wat dié week deur Atletiek SA aangewys is. Die ander spanlede is Precious Mashele, wat al verskeie nasionale titels gewen het; die voormalige 1 500m kampioen Ryan Mphalele, en die SA rekordhouer in die 5 000m, Elroy Gelant.

Dit sal die eerste keer wees dat Mathanga sy land buite Afrika verteenwoordig. Hy is vasbeslote om goed te vaar, maar wil nie voorspellings waag nie. “Al die beste veldlopers in die wêreld gaan daar wees,” het hy gesê.

Die 29-jarige, wat plaaslik in die kleure van Phantane Atletiekklub in KwaZulu-Natal deelneem, sê hy is tevrede met sy voorbereiding.

“Ek het alles gedoen wat ek kon. Ek het geen beserings nie, en as alles goed afloop, kan ek onder die top-atlete eindig,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.

Mathanga het Suid-Afrika laasjaar by die 2022 Afrika Atleliekkampioenskappe in Mauritius verteenwoordig.

In die foto hierbo: Mbuleli Mathanga

Fotobron: Phantane Atletiekklub