Die poppemeester agter die burgemeester

Deur Zukile Majova

Vergeet van Abubakr Thaphelo Amad, Johannesburg se nuwe burgemeester, waarvan niemand nog twee weke gelede gehoor het nie. Die een wat die marionet se toutjies gaan trek, is Dada Morero, die ANC se streeksvoorsitter in Gauteng.

Morero was verlede jaar van 30 September tot 25 Oktober burgemeester, voordat hy deur ’n bevel van die hooggeregshof uit sy amp verwyder is. Daarvolgens was sy aanstelling onwettig.

Nou gaan hy op ’n wettige omweg in beheer wees van die stad se begroting van R77 miljard, met bitter min aanspreeklikheid.

Amad het hom aangewys as lid van burgemeesterskomitee vir finansies. Die twee van hulle het klaar laat blyk hulle wil ’n aansoek om ’n lening vir R2 miljard aan die stad goedkeur, en dat hulle die stad se finansies, wat hulle as ’n “gemors” beskryf, gaan “regruk”.

Amad, wie se party 1% van die stemme in Gauteng getrek het, gaan nie lank genoeg in die amp wees om verantwoording vir die R2 miljard te doen nie.

Die ANC het vyf van die 10 plekke op die burgemeestersraad, die EFF het twee, die Patriotic Alliance twee, en een is vakant.

Daar is skandemakers waar jy kyk. Sushi-koning Kenny Kunene, wat nou die PA se adjunk-president is, is as komiteelid vir Vervoer aangewys.

Loyiso Masuku keer terug as komiteelid vir Groeps- Korporatiewe en Gedeelde Dienste. Sy was betrokke by ’n skandaal om die verskaffing van beskermmingtoeristing in die ergste maande van Covid-19, maar is van vervolging kwytgeskeld.

Haar man, Bandile Masuku, moes as die voorsitter van Gauteng se uitvoerende komitee vir Gesondheid bedank, en ’n huisvriend, Khusela Diko, het haar as segspersoon vir President Cyril Ramaphosa onttrek.

Komiteelid Masuku was ’n besluitnemer toe ’n tender van R125 miljoen toegestaan is aan Diko se man, AmaBhaca King Madzikane II. Hy is sedertdien dood.

In die foto hierbo: Dada Morero is weer die baas

Fotobron: @MayorDadaMorero