Deur Prince Azeel
Nog internasionale lof het Suid-Afrikaanse musikante Nomcebo Zikode en Zakes Bantwini toegekom.
Daar is aangekondig dat hulle Sondag by die 65ste jaarlikse Grammy-toekennings in Los Angeles gaan optree.
“Bederf jouself met musiek van regoor die wêreld tydens Grammy Week. Verbreed jou horisonne saam met ons paneel… Geniet ‘n optrede deur Bantwini & Nomcebo Zikode,” het die organisasie getwiet.
Die aankondiging van hul optrede kom nadat Zikode en Bantwini, saam met Wouter Kellerman, vir vanjaar se gesogte toekennings genomineer is.
Die trio is genomineer in die kategorie Beste Globale Musiekuitvoering vir hul samewerking genaamd “Bayethe”.
Zikode het gesê die afgelope paar jaar was ongelooflik.
“Dit voel onwerklik dat ons nou benoem is as deel van die voorste musiektoekennings ter wêreld, en ons mag sowaar in die wedloop vir ‘n Grammy kompeteer,” het die multi-platinum-verkoper sanger in ‘n persverklaring gesê.
Opgewonde oor haar bywoning en optrede by die geleentheid, het Zikode ook Maandag in ‘n twiet gesê: “Op pad Los Angeles toe om die 65ste jaarlikse Grammy-toekennings as ‘n genomineerde by te woon. Dankie vir die uitnodiging.”
Bantwini, wat nie sy opgewondenheid kon bedwing nie, het ook die Grammy Museum-twiet aangehaal en gesê: “KwaMashu-kid at the #Grammys.”
Uitvoerende hoof van IMG Africa en die samewerking se meesterbrein, Sibo Mhlungu, het gesê: “Ons sien daarna uit om Suid-Afrikaanse musiek by die komende Grammy-toekennings te verteenwoordig.”
Oor die erkenning van die duo en Kellerman, het hy gesê “Bayethe” is ‘n werklik globale skepping.
“Dit spreek van die dinamika en onmiskenbare talent van al drie kunstenaars, en ons is regtig trots om ons werk op die wêreldverhoog te kan vertoon,” het hy gesê.
Die glansgeleentheid vind op 5 Februarie plaas.
Op die foto hierbo: Nomcebo Zikode
Fotobron: @Nomcebozikode