Deur Everson Luhanga
Ses polisielede is in Boksburg-Noord in Gauteng vasgetrek omdat hulle die eienaar van ’n skrootwerf bewusteloos geslaan en beroof het.
Die Onafhanklik Polisie-Ondersoekdirektoraat het bevestig dat vier van die polisielede Woensdag aangekeer is op klagtes van aanranding. Hulle slagoffer, ’n buitelandse burger, is so erg in die aanval beseer dat hy nege dae lank in ’n koma was.
Die ander twee is van aanranding en die diefstal van koperkabels aangekla.
Lizzy Suping, segspersoon vir die direktoraat, het gesê die gruwelaanval het op 9 Januarie in die polisieselle plaasgevind.
“Die slagoffer en sy vriende is deur die polisie voorgekeer en vir hulle identiteitsdokumente gevra. Nadat die slagoffer nie die noodsaaklike dokumentasie kon toon nie, is hy na die polisiestasie geneem, waar hy na bewering aangerand en gemartel is,” het sy gesê.
Daarna is hy hospitaal toe geneem, waar hy nege dae lank in ’n koma was.
’n Sersant en drie konstabels staan tereg op klagtes van erge aanranding en regsverydeling. Hulle word by Boksburg se polisiestasie aangehou, en sal vandag (Donderdag) in die Boksburgse landroshof verskyn.
In die foto hierbo: Een van die vermeende aanranders word in hegtenis geneem
Fotobron: SAPD