Proteas struikel, maar is terug op pad boontoe


Die Proteas het gister in Kimberley in die pylvak gestruikel in hulle poging om ’n 3-0 sege in die krieketreeks teen Engeland te beklink, maar 2-1 sal deug, dankie!

As hulle Nederland 2-0 klop, sal hulle feitlik verseker wees van ’n reguit pad tot in die Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Indië plaasvind, en uitspeelwedstryde vermy.

Engeland het gister skitterend teruggeveg nadat Lungi Ngidi se swaai- en naatballe onder hulle gemaai het. Hulle was gou in die sop op 14/3. Wie sou kon raai dat hulle op ’n stewige 346 sou draai? Hulle kaptein, Jos Buttler (131), en Dawid Malan (118), dis wie! Hulle het ingeklim met ’n formidabele vennootskap van 240 om die vierde paaltjie.

Nadat Malan uit is, het Moeen Ali vier sesse geklits in ’n snelvuur 41. Skielik was Engeland die gunsteling.

Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, het gelyk of hy na nog ’n honderdtal mik, maar op 35 het Chris Woakes hom met ’n stadiger bal uitoorlê.

Reeza Hendricks, in die plek van die beseerde Quinton de Kock, het gesneuwel op 52, maar die span was steeds op koers, totdat Aiden Markram en David Miller teen die halfpadmerk verkas het.

Die verlangde lopietempo het binne bereik gebly, maar toe Heinrich Klaasen (80) uit is met die telling op 278, was dit neusie verby. Die laaste vier paaltjies kon net nege lopies oplewer.

Daar was talle pluspunte vir Suid-Afrika in die reeks. Die grootste hiervan was Bavuma se skitterkolfwerk en kapteinskap. Sy pos is nie meer in gedrang nie.

In die foto hierbo: Lungi Ngidi het Engeland geskud, maar dit was nie genoeg nie

Fotobron: Twitter