Deur Sandiso Phaliso
Die mense van Browns Farm in Philippi, sowat 25km buite Kaapstad, is raadop.
Die polisie het die gebied as ’n misdaadnes beskryf – en tog is daar nie ’n polisiekantoor wat die elf informele gemeenskappe bedien nie.
Inwoners was oorstelp toe die raadslid vir die gebied, Melikhaya Gadeni, in September verlede jaar aangekodig het dat hy saam met die SA Polisiediens in Nyanga, gemeenskapleiers en die Gemeenskap-Polisieforum, ’n aksieplan opgetrek het. Die polisie sou die einde van daardie maand by Browns Farm se gemeenskapsentrum intrek.
Nou, vier maande later, is daar steeds geen teken van ’n enkele polisieman nie.
Die afgelope naweek, in ’n volgepakte gemeenskapbyeenkoms, het Gadeni aan die pasaangestelde bevelvoerder van Nyanga se polisiekantoor, Lindiwe Dyantyi, gevra hoekom dit so lank vat om ’n polisieteenwoordigheid daar te vestig.
Sy het gesê die polisie wag op toestemming van die provinsiale polisiehoof voor hulle by die gemeenskapsentrum kan intrek.
Luitenant-Kolonel Andre Traut, die Weskaapse polisiewoordvoerder, het die vraag onduik en dit op die Nasionale Mediasentrum afgepak. Hy het erken dat daar geen sperdatum bestaan nie.
Scrolla.Africa se navraag aan die Nasionale Mediasentrum bly nog onbeantwoord.
Intussen voel mense in die gemeenskap uiters kwesbaar.
Om daar te woon, is ’n nagmerrie. In 2022 is daar 87 moorde opgeteken. Motorkapings, gewelddadige roof, inbrake en geweld teen vroue is algemeen. Skote klap dag en nag. Koeriers lewer nie meer daar af nie, omdat dit te gevaarlik is. Munisipale werkers kan nie instandhouding sonder bewaking doen nie.
’n Satelliet-polisiekantoor in die nabygeleë Philippi-spoorwegstasie is vroeër vanjaar gesluit. Weens aanhoudende kabeldiefstal en stroping was daar geen elektrisiteit nie.
Inwoners moet nou sake by die polisiekantoor in Nyanga aanmeld, omtrent 10km weg. Retoer-vervoerkoste is R20, ’n klomp geld vir die werkersklas-gemeenskap.
In die foto hierbo: Die gestroopte satelliet-polisiekantoor op Philippi-spoorwegstasie
Fotobron: Sandiso Phaliso