Mexikane maak nie hond haaraf met Trev se fro-kam nie

Trevor Noah het ‘n kort vakansie in Mexiko geniet, maar ‘n harige situasie het gedreig om sy reis te verleng.

Die Suid-Afrikaanse komediant het sy Off the Record-wêreldtoer in Amerika op 20 Januarie afgeskop en ‘n bietjie verlof gehad. Hy dog toe: hoekom spandeer ek nie bietjie tyd in manjifieke Mexiko nie?

Maar toe hy na die VSA terugkeer op die vooraand van die 65ste Grammy-toekennings, waar hy as aanbieder optree,  is Noah deur lughawe-sekuriteit gestop.

Hy het tog sekerlik niks in sy bagasie gehad wat vir enigiemand ‘n probleem kon inhou nie, of hoe? Maar die Mexikaanse amptenare het gedink daar was iets baie kommerwekkend in sy tas te vinde.

Die aanstootlike voorwerp: ‘n afro-kam… Ja, sien is glo.

“Afro-kam is deur lughawe-sekuriteit gekonfiskeer,” het Noah saam met ‘n foto op Instagram Stories gedeel.

“Hulle het gesê hulle weet nie wat dit is nie.”

‘n Afro-kam is nie iets wat te dikwels in die Mexikaanse kultuur gebruik word nie en het ernstige kommer verwek toe dit in Noah se sak bespeur is.

Nadat die saak opgelos is het Noah, met ongekamde afro, na Los Angeles teruggekeer.

Die 65ste jaarlikse Grammy-toekennings word Sondag deur die 38-jarige aangebied, en kan deur Suid-Afrikaners in die vroeë oggendure van Maandag gesien word.

Dis die derde keer wat Noah die toekennings sal aanbied.

“Elke keer as ek die Grammys bywoon, ontdek ek ‘n nuwe kunstenaar wat ek nie ten volle waardeer het nie, wat ek nie liefgehad het vir die regte redes nie,” het Noah op The Late Show with Stephen Colbert gesê.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto bo: Trevor Noah

Beeldbron: @TrevorNoah