Enige kaasliefhebber se droom

As jy gek is na kaas sal jy dalk gretig wees om ’n maatskappy wat slaapnavorsing doen se aanbod te aanvaar: Eet hompe daarvan en verdien $1 000 (omtrent R17 000) vir jou “werk”.

Die maatskappy, met die naam Sleep Junkie, is op soek na deelnemers aan ’n projek wat daarop gemik is om te kyk of kaas rêrig tot nagmerries lei. 

Volgens die aansoekvorm vir die pos sal die gekose deelnemers elke week ’n lys ontvang van die kaassoorte wat hulle moet eet. 

“Die proefneming sal ook vegan- en laktose-vrye kaas bevat,” volgens die advertensie wat deelnemers lok.

Sleep Junkie het verduidelik dat deelnemers moet opteken hoe die kaasetery hulle slaap affekteer. Hulle moet sodra hulle wakker word hulle drome, nagmerries en slaapgehalte beoordeel.

Die studie, wat drie maande lank sal duur, begin in Maart.

“Benewens al die gratis kaas sal deelnemers aan die einde van die projek ook $1 000 ontvang,” sluit die advertensie af.

Die posbeskrywing vereis dat deelnemers, na wie daar as “melkdromers” verwys word, ten minste 21 moet wees, alleen slaap, op dieselfde tye, en ’n “slimhorlosie” en fiksheidmeter besit.

Deelnemer mag ook nie aan slapeloosheid ly of allergies vir melkprodukte wees nie.

In die verlede het talle studies daarop gedui dat melkprodukte soos kaas mense eintlik beter kan laat slaap.

’n Oorsig van navorsing wat in 2020 gedoen is oor melkprodukte en slaap, het gevind dat melkprodukte wat ryk is aan triptofaan mense langer kon help slaap.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

In die foto hierbo: Kies jou kaas

Fotobron: iStock