Vermom soos ouma om beter diens te bevorder

Deur Zavela Makwabe

Bukiwe Fanta, LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling in die Oos-Kaap, wou haarself in burgers se skoene plaas. Toe trek sy haar aan soos ‘n gogo en slaan die strate!

Toe klagtes oor swak diens by SASSA-kantore in Lusikisiki op haar lessenaar beland, wou sy persoonlik uitvind of daar waarheid in steek.

Sy het haar soos ‘n gewone dorpsvrou aangetrek, kompleet met kopdoek en ‘n kombers om haar lyf, en self gaan kyk wat kook.

“Die klagtes was oor stadige diens en swak behandeling van diegene wat ons SASSA-kantore besoek. Mens kan nie als glo wat jy hoor nie, vandaar die plan om self soontoe te gaan,” het Fanta later aan Scrolla.Africa verduidelik.

Fanta het Donderdag en Vrydag soos ‘n gewone burger op die bankies in Lusikisiki en Port St John’s gesit en wag om deur SASSA-amptenare bedien te word.

Fanta het gesê sy glo hoe jy behandel word gee jou hoop en waardigheid, selfs wanneer ‘n spesifieke kwessie nie opgelos word nie.

En wat sy uitgevind het, volgens haar woordvoerder, sal toesien dat sy met die streekhoof van SASSA vergader om haar bevindinge te bespreek en “maatreëls te skep wat verseker dat mense prysenswaardige diens ontvang”.

Busi Jemsana-Mantashe, Fanta se woordvoerder, het Sondag aan Scrolla.Africa gesê die LUR, wat later haar identiteit onthul het, was op haar eie tydens die besoeke om te voorkom dat sy herken word. Van die sake wat sy hoop om reg te stel, is hoe amptenare praat met mense wat hulp soek, en hoe hulle hulself gedra.

“Beter kliëntediens word vereis. Die amptenare het hulself nie professioneel gedra of op ‘n bekwame wyse met kliënte gepraat nie.

“Nog iets wat haar glad nie aangestaan het nie was dat amptenare luide gesprekke met mekaar gevoer het terwyl hulle besig was om te werk,” het Jemsana-Mantashe gesê.

In reaksie op die LUR se sosiale media-plasing het mense stories van swak behandeling deur SASSA-amptenare gedeel.

Zizipho Maqhutywa het onthou hoe ‘n manlike amptenaar haar beledig het en haar ‘n skelm genoem het toe sy in 2017 aansoek gedoen het vir ‘n toelae om met onderhoud van haar baba te help.

Maqhutywa het gesê die man het geweier om haar ‘n kans te gee om te verduidelik dat haar kontrak met die regering tot ‘n einde gekom het. “Ek het sy kantoor in trane verlaat, en ek sal nooit die behandeling vergeet nie,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: LUR Bukiwe Fanta in vermomming as ‘n Gogo

Fotobron: Verskaf