Ryk toppie blaas miljoene om weer ’n laaitie te word

’n Middeljarige man, wat dalk meer geld as breins het, glo hy kan homself jonger “koop”.

Brian Johnson (45) besit ’n bio-tegnologie-maatskappy, en glo vas hy kan weer 18 word as hy genoeg pond uithaal. Hy sê hy is klaar vyf jaar jonger, en hy mik na tienerstatus.

Johnson het data versamel wat, in sy oë, bewys mens kan die natuurlike oudwordproses in sy sokkies laat vassteek. Sy aksieplan heet Project Blueprint. Hy is bereid om nog $2 miljoen vir dié lawwigheid uit te haal, volgens ’n artikel in die tydskrif Bloomberg.

Op die oog af sou mens raai hy is dalk op die spoor – in trurat – om ’n geheim te ontrafel waarna party mense al eeue lank soek . Daar is dokters – wat natuurlik sakke vol geld uit die projek maak – wat sê sy vel is die van ’n 28-jarige, en sy longkapasiteit die van ’n 18-jarige.

Volgens die artikel in Bloomberg moes dit miljoene gekos het om die projek te begin, wat ’n amperse mini hospitaal  by sy huis in Venice, Kalifornië insluit.

Nou nog vir daai ekstra $2 miljoen. Sy brein moet ook 18 wees, wat beteken hy kan al die moeite ongedaan maak deur elke aand ses of sewe biere te drink.

Sy sagtewaarde vir bedgimnastiek moet in hardeware omgesit word, en dié afdeling vorder fluks, sê sy dokters. Sy agterstewe, hart, longe, niere, lewer, hare, blaas, tande en vel moet ook weer 18 word.

Oliver Zolman, die 29-jarige dokter wat die program lei, noem homself die “jonkmaakdokter”. Hy het 30 handlangers.

Die program is nog in die eksperimentele fase, en bestaan uit ’n strawwe daaglikse roetine wat handevol pille, oefening, die regte kos en ’n hele spul liggaamstoetse insluit.

Sy maaltye, almal vegan, bestaan uit ’n mengsel van stewige en sagte kossoorte, en net 8 000 kilojoules per dag.

Volgens Bloomberg kom daar dan nog drie taai gym sessies, bloedtoetse en breinskanderings. Hy gaan lê, maag na onder gekeer, een keer per maand vir ’n kolonoskopie.

Johnson het gesê hy wil bewys mens hoef jouself nie skade aan te doen en agteruit te gaan nie.

Hy hoop ander mense volg sy voorbeeld, en begin kompeteer om te kyk wie word die vinnigste jonk. Hy is sover die enigste deelnemer, en loop gemaklik voor.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

In die foto hierbo: Bryan Johnson

Fotobron: Bloomberg