Ooi wat haar lyf lam hou word uitgevang

‘n 29-Jarige vrou van New Brunswick is gearresteer en aangekla nadat sy vir etlike dae voorgegee het dat sy ‘n leerling is by ‘n skool in New Jersey.

Hyejeong Shin het haar as student voorgedoen en vier dae lank deur die skool se gange rondgedwaal en klasse bygewoon. Ongelukkig vir Shin het dit nie lank gevat vir onderwysers en ander personeellede om die volwassene tussen die tieners op te merk nie.

Volgens ‘n Sky News-verslag is Shin aangekla nadat sy ‘n vals regeringsdokument – wat ‘n mens se identiteit of ouderdom aandui – verskaf het.

Die New Brunswick Public School-distriksuperintendent het gesê die vrou het ‘n vals geboortesertifikaat voorgelê om as leerling aanvaar te word, en kon dus daarin slaag om by die hoërskool in te skryf.

Gedurende haar dae by die skool het Shin baie tyd saam met voorligters spandeer wat meer inligting oor haar probeer inwin het. Toe personeellede die vrou se slenter ontbloot het, is die toepaslike owerhede dadelik in kennis gestel.

Die vrou is in hegtenis geneem en is nou aangekla, volgens Sky News.

Amptenare het studente gemaan om geen verdere kontak, persoonlik of op ‘n afstand, met die vrou te hê nie. “Dit is ‘n ongelukkige voorval. Daar is gekommunikeer met die ouers van individue wat moontlik met die jong dame in aanraking was, en alle hoërskoolouers is van die stand van sake ingelig,” het ‘n skoolbeampte gesê.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: 29-jarige Hyejeong Shin het haar lyf hoërskoolkind gehou

Beeldbron: Twitter