Deur Karabo Rammutla en Chris Gilili
MaR5 se show by ’n dop shop in Soshanguve Saterdagaand was, soos altyd, die ene elektrisiteit – totdat Eskom die ligte vir beurtkrag afsit en ’n tragedie by dié byeenkoms van Magents sosiale klub afspeel.
Die “Chomi ke Changitse” treffermaker het uitgestap om te bel, toe klap ’n skoot. Die superster is later dood aangetref.
MaR5 se dood kom net weke nadat die gewilde Tshwane celeb en danser Lesego Sonti in Mabopane doodgeskiet is. Nou vrees ander vermaaklikheidsterre vir hulle lewens.
’n Musikant wat naamloos wil bly, sê dit sal moeilik om ná MaR5 se dood voor skares op te tree. Hulle sal nie veilig voel voordat hulle weet wat aangaan nie.
“Dis die tweede moord by ’n stokvel, en die skuldiges hou ons fyn dop. Ons moet weet hoekom hulle dit doen. Op die oomblik is alles duister,” het hy gesê.
’n Danser wat opgetree het saam met MaR5, wie se regte naam Itumeleng Mosoeu is, meen die motief is dalk jaloesie.
“Baie geld vloei by hierdie stokvels. Die moordenaar was dalk jaloers omdat Sonti en MaR5 so suksesvol was.”
Die danser, wat ook haar identiteit stil wil hou, het gesê sy dink die stokvels moet stopgesit word. “Dit sal sekerlik die moorde laat ophou.”
Scrolla.Africa het die sanger se huis in Boekenhout, Mabopane, besoek, maar sy familielede wou nie kommentaar lewer nie, en het ons na Tebogo Molelekeng van Tribal Records verwys. Dié het die dood in ’n verklaring bevestig.
Molelekeng het gesê hulle kan niks verder oor die saak sê nie, want die ondersoek duur voort.
Die kunstenaar Mpho Tharaga het aan Scrolla.Africa gesê sy hart is gebreek. Hulle was besig om saam aan ’n groot projek te werk.
“Sy dood laat ’n groot leemte. Ek sal hom en sy energie kwaai mis. Dis so aaklig,” het hy gesê
In die foto hierbo: Die musikant MaR5, wat in Soshanguve doodgeskiet is
Fotobron: Verskaf