Lammy ’n sportster 20 jaar ná tragiese ongeluk

Deur Nkhensani Mthombeni

Nadat Lammy Mathye 20 jaar gelede verlam is in ’n karongeluk, sou hy nooit kon droom hy sou eendag vir sy sportprestasies bekroon word nie.

Saterdag is hy as die SA Polisiediens se Sportster van die Jaar aangewys, in die afdeling vir persone wat met gestremdheid leef.

Die prys is aan hom toegeken by ’n geleentheid in Polokwane waar uitsonderlike prestasies beloon is. Mathye blink uit in onder meer fietsry, diskusgooi, spiesgooi en gewigstoot.

Die Minister van Polisie, Bheki Cele, en die Nasionale Kommissaris, Luitenant Generaal Sehlahle Masemola, was daar.

Mathye het aan Scrolla.Africa gesê die toekenning spoor hom aan om nóg harder te oefen. “Ek is gek na sport. Dis my passie. Maar ek het nooit gedink ek sou só ’n toekenning wen nie,” het hy gesê.

Hy het die toekenning aan sy vrou, Alina, opgedra vir haar onbaatsugtige ondersteuning.

Hy werk as klerk by die Namakgale polisiestasie buite Phalaborwa, Limpopo, en het in November die provinsiale toekenning in dieselfde afdeling gewen.

Die nasionale prys sluit kontant, elektroniese toebehore en kruideniersware-koopbewyse in.

In die foto hierbo: Lammy word as die polisie se Sportster van die Jaar aangewys

Fotobron: Verskaf