Temba – met woema – wys hy’s hier om te bly

Deur Lucky Maree

Nog ’n stappie nader aan ’n regstreekse plek in eendagkrieket se toernooi om die Wêreldbeker! Dit is op die oog af die belangrikste gevolg van die Proteas se skittersege met vyf paaltjies teen Engeland in Bloemfonten gister. Hulle het die tawwe teiken van 343 makliker verbygesteek as wat die telkaart mens sal laat glo,

Maar die grootste prys op die spel, was Suid-Afrika se kaptein, Temba Bavuma, se selfvertroue.  Hiep-hiep! Sy 109 van 102 balle het gewys die kaptein is terug, en beter as ooit, volgens Shaun Pollock, iemand wat weet daai joppie is nie altyd glorie en sjampanje nie.

Polly is as kaptein gepos nadat sy klein glipsie met ’n optelmasjien Suid-Afrika in 2003 ’n Wêreldbekerkans gekos het. Temba kon dalk dieselfde lot oorgekom het as hy nie baie gou met die kolf kon regkom nie.

In die bloedige son was Bavuma nie net klinies nie, hy was onkeerbaar, en het selfs onder Quinton de Kock uitgeseil in ’n sprankelende vennootskap van 77 om die eerste paaltjie.

Sy wedstryd het veel vroeër goed begin toe hy die loot gewen en Engeland ingestuur het. Dit was die regte keuse. In die eerste paar beurte het veral Lungi Ngidi die bal dié kant toe en dáái kant toe van die naat af laat zoem, en kort voor lank was Jason Roy en Dawid Malan suurbek in die stort.

Toe die son eers die klein bietjie vog uit die blad gesuig is, was dit ’n kolwersparadys, en Harry Brooke (80) en die kaptein, Jos Buttler (94*), het die lopies jolig laat inrol. Later het Sam Curran by Brooke oorgeneem, en hy en Buttler het 60 van die laaste vier beurte geplunder.

SA moes 343 jaag, wat uitdagend is op die makste blad, maar Temba en Quinny het die besoekers gou gewys: hier kom ’n ding.

Die paaltjies het reëlmatig geval – maar nie vinnig genoeg om die lopievloed te stuit nie.

Oeps. Met ’n honderdtal wat wink, ontwikkel Bavuma ’n kramp. Die masseerterapeut was skielik die belangrikste lid van die span. As die gevryf  nie gehelp het nie, het die 100-tal wel. Temba was pure perd vir sy aandoenlike feesviering.

Hy het na die naam op sy hemp gewys asof wou sê: “Bavuma. Ek hoort hier en ek gaan nêrens nie.” As hy nie papnat gesweet was nie, sou mens hom ’n drukkie wou gee. Die skare was in die palm van sy hand.

Elke kolwer het sy deeltjie gedoen, en teen ’n flink tempo: De Kock 31, Rassie van der Dussen 38, Aiden Markram 49, Heinrich Klaasen 27 en Marco Jansen – nou ’n volwaardige alsydige speler – 32 nie uit nie.

David Miller, altyd die komkommerkoelste kop op die veld, het die karretjie vernugtig in die pylvak af bestuur, en met ’n kenmerkende monsterses oor die wenstreep gejaag, met nog vyf balle in die tenk. Hy het net 37 balle vir sy 58* nodig gehad.

In die foto hierbo: Temba Bavuma wys toe hy kán

Fotobron: @ProteasMenCSA