Nelson Mandelabaai bid vir reën

Deur Anita Dangazele

Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het verlede week gebedsessies gehou om reën te versoek tydens die ergste droogte in die distrik se geskiedenis.

Die sessies is deur die week op verskeie plekke gehou, met die hoofbyeenkoms op Sondag by Gqeberha se Gelvandale Stadion.

Nelson Mandelabaai-inwoners het gehoor gegee aan die munisipaliteit se beroep en het in groot getalle opgedaag om te bid vir reën.

Die stad se gekombineerde damvlakke staan tans op 13.83% en net meer as 8% is beskikbaar vir gebruik.

Die munisipaliteit se politieke hoof van kiesafdelingsdienste, Rano Kayser, het gesê hy glo goddelike ingryping en gebed kan die stad red

“Daar het ligte reën geval ná al ons gebede gedurende die week, maar wat die Here wil hê is eerstens vir ons as inwoners, belanghebbendes, politici en godsdiensleiers om hande te vat, vir reën te vra en onsself te verootmoedig,” het hy gesê.

Impofudam, die metro se grootste opvangsdam, is nou so laag teen 6.87% dat water nie meer daaruit gepomp kan word nie – die dam is verlede naweek amptelik uit diens gestel deur Burgemeester Retief Odendaal.

Odendaal het gesê as daar nie ‘n ingryping van een of ander aard is nie, sal die stad nie hierdie ramp oorleef nie. “As ons eerlik gaan wees, kan geen mensgemaakte skepping ons van hierdie ramp red nie. As God nie vir ons reën stuur nie, sal ons nooit oorleef nie.”

Die metro ervaar steeds onderbroke watervoorsiening, veral in die westelike dele van die stad wat deur Churchilldam gevoer word. Eskom het aanvanklik geweier om die dam van voortdurende stroomonderbrekings te ontsien. Maar teen Donderdag het Odendaal aangekondig dat Eskom uiteindelik ingestem het om die metro se volste dam, Churchill, van beurtkrag vry te stel.

Die metro se water- en verspreidingsdirekteur, Joseph Tsatsire, het gesê: “Die beurtkragkrisis het sout in ons wonde gevryf deur waterverspreiding na die stad se reservoirs negatief te beïnvloed.”

Godsdienstige leiers van verskeie gemeentes regoor die stad het leiers ondersteun wat by inwoners gepleit het om bedag te wees op die huidige waterkrisis en water met sorg te gebruik.

Op die foto hierbo: Nelson Mandelabaai-inwoners staan ​​tou vir water

Fotobron: Burgemeester Odendaal se Facebook-blad