Deur Zukile Majova
Dit is deesdae ‘n swak-bewaarde geheim dat die land verkiesingsgees gevang het.
Week na week word dit meer duidelik dat opposisiepartye en gemeenskapsorganisasies in klein dorpies regoor die land probeer om die ANC se bewind te beëindig.
Daar is ook ‘n aansienlike toename in onafhanklike kandidate wat aan munisipale tussenverkiesings deelneem. Die groter prentjie weerspieël ‘n openbare ontevredenheid met kandidate deur die ANC ingestel.
Hierdie stand van sake het President Cyril Ramaphosa sowat van ‘n skrik op die lyf gejaag dat hy ‘n beroep op die ANC gedoen het om “sonder versuim in verkiesingsluim te kom”.
Hy het op ’n tweedag-partybyeenkoms in Kempton Park gesê die nasionale algemene verkiesing in 2024 gaan groot implikasies vir die ANC hê.
Die party het 45.59% van nasionale stemme tydens die plaaslike regeringsverkiesings in November 2021 gewen, en sy steun in die 2019 nasionale algemene verkiesing het van 62% tot 57.5% afgeneem.
Die ANC was nog nooit so naby daaraan om beheer te verloor van die land se ekonomiese spilpunt nie; Gauteng is in 2019 met 50.09% gewen.
Die party is nou verstrengel in ‘n straatgeveg om DA-koalisies in Gauteng Metropolitaanse rade – Joburg, Tshwane en Ekurhuleni – op enige manier moontlik te voorkom.
Verlede week was die volk geskok toe voormalige DA-burgemeester, Dr Mpho Phalatse, uit haar amp gedwing en vervang is met Abubakar Thaphelo Amad van Al Jama-ah – ‘n party met slegs drie setels in ‘n raad met 270 setels.
Ramaphosa het gesê die ANC kan nie bekostig om voorbereiding van sy strukture uit te stel wanneer die moeilikste verkiesing sedert 1994 beveg moet word nie.
“Hoewel geen party nog amptelik ‘n verkiesingsveldtog geloods het nie, is voorbereidings vir die 2024-verkiesing goed op dreef.
“Hierdie Lekgotla moet een manier wees wat ons gebruik om ons verkiesingsveldtog daadwerklik aan die gang te kry.”
Dit is ‘n gevaarlike skuif deur die president en mag selfs onwettig wees, aangesien die regulasies wat die afkondiging van verkiesings beheer, ‘n polities gelaaide tydperk van slegs 90 dae voor die verkiesing toelaat.
Die president plaas nou die nasie vir meer as 12 maande op verkiesingsgereedheidsvlak.
Op die foto hierbo: President Ramaphosa
Fotobron: @Busani_MtalanaM