HOEKOM HOU DIE ANC DIE GROEN REWOLUSIE TERUG?

Deur Zukile Majova

Dit is nie son- of windkrag wat die base in die ANC snags wakker hou nie.

Nie eers beurtkrag hou hulle uit die slaap  nie. 

Wat hulle die skrik op die lyf jaag, is die gedagte aan die R300 miljard wat deur hulle vingers kan glip.

Hulle vrees ’n herhaling van die Transvaalse goudstormloop in die 19de eeu, toe ’n blitstoeloop van wit pioniers oornag miljoenêrs en miljardêrs geword het.

Swartmense wat op die myne gewerk het, was die volgende 100 jaar steeds onderdane in hulle eie land.

Tot nou toe het die ontdekking van minerale ander verryk, maar nie die swart meerderheid nie.

En nou is ons op die vooraand van ’n hedendaagse goudstormloop, met die $8.5 miljard wat ontwikelde lande in Suid-Afrika se Regmatige Energie-Oorgang gaan stort.

Na verwagting gaan ten minste R300 miljard aan die Groen Waterstof Nasionale Program toegesê word.

Hoewel Lithulihuis besef ’n oorgang van steenkool na hernubare energiebronne is onvermydelik, het hulle gehoop hulle kan dit vertraag.

Hulle wil die oorgang na hulle wense beheer – en seker maak hulle mense is gereed om te skep.

Gwede Mantashe, Minister van Energie- en Mineralebronne, lei die teenkanting teen hernubare energiebronne.

Hy praat van ’n “mensgerigte” beleid, maar vir die ANC beteken “mensgerig” eintlik “polities-verbind”, soos in die BBB-EE-beleid wat die ANC se families met die regte politieke konneksies verryk het.

Miljarde rande word elke jaar verkwis op boewe wat hulleself as “sakeforums” voordoen wat ’n 30% BEE aandeel opeis van elke kontrak wat aan regte Suid-Afrikaanse maatskappye toegestaan word.

Meer as R2 biljoen se openbare geld is die afgelope  20 jaar aan BBB-EE firmas toegestaan, met min bewyse dat swart nyweraars betrokke was.

Die ANC het ’n lang geskiedenis waarin hulle kontrakte in die energie-sektor toestaan om hulleself te verryk. 

Dit het byvoorbeeld aan die lig gekom dat hulle enorme omkoopgeld van Hitachi Power Africa ontvang het – ’n maatskappy waarin die ANC se beleggingsmaatskappy, Chancellor House, ’n aandeel van 25% besit. Verder het hulle ook ’n ketelkontrak van meer as R40 miljard van Eskom vir die Kusile en Medupi kragstasies ontvang. Raai wie het betaal.

Die ware knelpunt in die energie-oorgang is wie watter sny van die geldpastei kry.

Maar met beurkrag wat nou buite beheer geraak het, is die djin uit die bottel, en kan nie teruggesit word nie. 

Mense en besighede verloor tussen agt en 12 ure se krag per dag, en beurtkrag is tot dusver elke dag van 2023 in werking gestel.

Duisende mense van Komani (voorheen Queenstown) in die Ooskaap het vandeesweek die strate binnegevaar – gatvot ná tien dae sonder krag.

Hulle sal nie nee sê vir hernubare krag nie; hulle gee nie om of dit van Mpumalanga as steenkoolrif of die Noordkaapse windplase af kom nie.

Nog meer mense het na die ANC se hoofkwartier in Sauerstraat opmarsjeer, op soek na antwoorde.

Vandeesweek was die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen, hier met ’n ondubbelsinnige boodskap: Jammer, mense, die groene ekonomie is hier.

As jy wil eet, moet jy seker maak die toebehore in jou kombuis werk.

In die foto hierbo: Die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen, ontmoet die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe

Fotobron: @SecYelln