Smerige karre Bangani se redding

Deur Buziwe Nocuze

Siyabulela Bangani was moeg vir aalmoese vra, toe begin hy karre was – teen ’n winskoop – en werk sy pad op uit ’n sukkelbestaan.

“Ek het my werk as skoonmaker by ’n hotel as gevolg van Covid-19 verloor, en moes na myself omsien. Ek het amper-amper met die verkeerde mense gemeng en nare dinge begin aanvang,” het die 29-jarige aan Scrolla.Africa gesê.

Vroeg verlede jaar het hy by Khayelitsha Mall gesien hoeveel vuil karre daar was.

“Ek het gedink ek kan hulle skoonmaak terwyl die eienaars inkopies doen,” het hy gesê. “Hulle het my eers nie vertrou nie, en ek verkwalik hulle nie. In Kaapstad kan enigiets gebeur.”

Hy het nietemin op die eerste dag vyf klante gekry, en hy meen sy lae prys – R20 – tel in sy guns. “Mense het nie baie geld nie,” het hy gesê.

“Vriende het my afgeraai, maar ek het deurgedruk. Ek het vir hulle gesê ek het nie stres nie. Ek hoef nie oor my skouer te loer nie, en ek skrik nie as ek my naam hoor nie.”

Bangani is soggens seweuur op sy pos. Hy onderhou sy gesin met sy verdienste.

Een van sy klante, Sibongile Ngeni, steun hom omdat hy nie misdaad pleeg nie. “Ek gee hom altyd iets ekstra om hom te motiveer. Hy wys mens hoef nie te steel om te oorleef nie.”

In die foto hierbo: Siyabulela Bangani het sy rug op misdaad gekeer en onderhou sy gesin met eerlike werk – teen ’n winskoop

Fotobron: Buziwe Nocuze