Deur Buziwe Nocuze
Langa-Polisiestasie in Kaapstad is tot jou diens – tensy dit met hulle slapie inmeng. Hulle sluit die aanklagkantoor glo om diewe uit te hou.
’n Inwoner wou vyfuur die oggend ’n saak aanmeld, maar die hek by die ingang was gesluit.
“Ek het geskree, maar niemand het hulle daaraan gesteur nie,” het Amandla Mgojwana aan Scrolla.Africa gesê. Sy het die stasiebevelvoerder gebel om te hoor wat gaan aan. Hy het gesê sy moet die klokkie lui – maar daar was nie ’n klokkie nie.
“Hy het die personeel wat aan diens was gebel sodat hulle kan oopmaak. Verbeel jou iemand het my aangeval terwyl die hek gesluit was,” het sy gesê. “Ons sal ophou kla die dag as hulle hulle werk begin doen.”
Die gemeenskapaktivis Zongamenele Baliso het baie klagtes ontvang oor die stasie wat snags gesluit is, en verneem die polisielede slaap te lekker. “Hulle verwys mense na die Langa Safety Patrol,” het hy gesê.
Die stasiebevelvoerder, Kolonel Tebogo Jacobs, sê die stasie word as veiligheidsmaatreël gesluit, en ander stasies doen dit ook.
“Ons moet die toegang snags beheer. Daar is reëls, waarby al die stasies moet hou,” het Jacobs gesê.
Hy het erken dat dit nie veronderstel is om die publiek uit te hou nie. “Ek moet net noem, die stasie sluit nie, net die hekke. Lede van die publiek moet net die klokkie lui, sodat iemand vir hulle die hek kan oopsluit.”
Dis nou die klokkie wat nie bestaan nie
In die foto hierbo: Langa-Polisiestasie, waar dienaars kom dut
Fotobron: Vukani News