Deur Khaya Ndaba
Die naam van Anneline Mathiba se stigting, Proud Albinism, weerspieël haar sending, naamlik om mense wat met albinisme saamleef te bemagtig en hulle selfvertroue op te bou. Sy wil ook andere van die toestand bewus maak.
Mense met albinisme loop hulle gereeld in die gemeenskap teen vooroordele vas. Daar word soms teen hulle gediskrimineer. Anneline bied klasse aan waarin kinders en volwassenes met dié toestand meer daaroor leer.
Proud Albinism is betrokke by modelwerk, die modebedryf en die vermaaklikheidswêreld.
Mathiba wys dat ’n mens die stigma rondom albinisme sonder befondsing of borgskappe kan bestry. Harde werk en geloof in haar sending is haar wenresep.
Albinisme is ’n oorerflike toestand wat verhinder dat die liggaam genoeg melanien produseer. Dit is die stof wat pigmentasie aan die oë, hare en vel verskaf. Die vernaamste doel daarvan is om die vel teen die son te beskerm.
Anneline befonds Proud Albinism uit haar eie sak. Sy het dit in 2019 by die MTN Taxistaanplek in Johannesburg begin.
Die werk wat die 33-jarige doen, is van oraloor positief ontvang, wat haar die moed gegee het om ’n modeskou aan te bied. Dié eiesoortige gebeurtenis, waarin slegs modelle met albinisme gebruik is, was ’n groot sukses.
Sy het ook aan die vertoning Mama I Want the Black in You deelgeneem, wat by Johannesburg se Markteater aangebied is en handel oor diskriminasie in kringe waarin mense met albinisme beweeg.
Mathiba het onlangs met die Kaapstadse kinderboekskrywer Shirley Gunn saamgewerk om die boek Understanding Albinism aan laerskole te versprei, en onderwysers and leerders oor die toestand in te lig.
“Dit is belangrik dat leerders weet wat ‘ons’ toestand behels. Ons sig is nie goed nie, wat beteken kinders moet voor in die klas sit. Onderwysers moet weet hulle moet met wit bordkryt skryf, sodat dié kinders dit duidelik kan sien,” het Mathiba aan Scrolla.Africa gesê.
“En hulle moet natuurlik daarvan bewus wees dat ons so min as moontlik in die son moet kom.”
Mathiba beplan om in 2023 op haar werk voort te bou en meer ooreenkomste te sluit, sodat oorkundige sorg aan mense wat met albinisme leef befonds kan word.
Hiervoor sal sy borgskappe en donasies nodig hê, en sy sal verdere bewusmakingveldtogte aangaande albinisme en gestremdheid moet aanbied.
In sommige gemeenskappe kom albinisme in soveel as een uit 1 000 mense voor.
In die foto hierbo: Anneline Mathiba gee klas
Fotobron: Verskaf