Een-en-dertig van die 12 000 werkers wat Google in die pad gesteek het, is masseer-terapeute.
Die maatskappy, wat uit Kalifornië bedryf word, is bekend vir ruimskootse voordele aan werknemers. Hulle kon masserings met goeie werk losslaan.
Sundar Pichai, Uitvoerende hoofbeampte van Google se oorsigmaatskappy, Alphabet, het aan personeellede gesê hy aanvaar “volle verantwoordelikheid” vir die onlangse afleggings. Dit is deel van kostebesparings wat by talle tegnologie-maatskappye ingestel is.
Byna 60 000 mense het die afgelope jaar hulle werk by 174 maatskappye verloor, volgens die tydskrif Fortune.
Pichau het verlede Vrydag in ’n e-pos aan sy personeel geskryf die afleggings “druk swaar” op sy gemoed, berig Business Insider. Hy het gesê dit was nodig om “veel erger probleme” te verhinder.
Intussen word Pichai se eie aandele, beleggings en salarisse op R23 miljard geraam. Google snoei nie eens aan sy byvoordele nie.
Laat verlede jaar het Meta (voorheen Facebook) tinduisende werkers afgedank. Hulle het ook werkers se mediese en gesondheidsvoordele met R20 000 gesny, en wasgoed-voordele opgeskort.
Twitter, wat duisende werknemers afgedank het sedert Elon Musk se oorname in Oktober verlede jaar, het opgehou om vir werkers se WiFi en internet te betaal, en opleidingsprogramme en Camp Twitter, ’n gebeurtenis waarby alle werkers betrek was, afgelas.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
In die foto hierbo: Google-werknemers kry masserings
Fotobron: Flickr