Saamgeflansde skool se deure uiteindelik toe

Deur Everson Luhanga

Een klaskamer, een onderwyser en een leerplan vir 21 kinders van verskillende ouderdomme.

Dit was die lendelam skool wat in die Phomolong-gebied in Tembisa bedryf is. Die 21 leerders was tussen die ouderdomme van ses en 12. Hulle het hulle eie kos gebring en van soggens agtuur tot smiddae eenuur klasgeloop.

Die kinders was glo van Graad R tot Graad ses. Skoolfonds was deur die bank R450 per maand.

Scrolla.Africa het die skool besoek en met Zamandulo Rejoice Nxum, die onderwyser wat haarself as skoolhoof aangestel het, gepraat.

In die sogenaamde klaskamer is kinders volgens ouderdomme in groepies verdeel, met plastiekstoele wat die “klasse” van mekaar skei.

“Ek het die skool in 2020 begin toe ek besef het baie kinders doen niks nie, as gevolg van Covid 19,” het Zamandulo gesê.

“Ek het hulle na ’n beskutting geneem wat as ’n kerk gebruik is, omdat kerkbyeenkomste verbied was.”

Zamandulo het gesê sy het met vier kinders begin, maar geleidelik het meer kinders opgedaag, en getalle het tot 21 aangegroei.

Nadat die Covid 19 inperkings opgehef is, het nóg kinders bygekom.

“Sommige ouers het hulle kinders gebring omdat hulle moes teruggaan werk toe.”

Sy het gesê sommige kinders kon nie plek in staatskole kry nie en hulle ouers het nie geld vir duur privaatskole gehad nie.

Maar op Dinsdag 17 Januarie het Nxumalo en haar kinders onverwags besoek van die  Ekurhuleni Veiligheidambassadeurs ontvang. Iemand het hulle van die skool vertel, wat nie by enige regeringsdepartement geregistreer was nie.

“Die ambassadeurs wou by my weet hoe ek ’n skool kan bestuur wat nie deur die gemeenskap goedgekeur is nie. Hulle wou dokumente sien wat my toestemming gee om die skool te bedryf. Ek kon dit nie vir hulle wys nie, want ek het dit nie.

“Hulle het gevra dat ek my bedrywighede staak, totdat die Gautengse Departement van Onderwys inspeksie kom doen.”

Baie lede van die gemeenskap het nie van die skool geweet voor die inspeksie nie, en was kwaad omdat die kinders nie behoorlike onderrig ontvang nie.

Nxumalo het gesê ’n dag nadat die ambassadeurs daar weg is, het ’n groep inwoners by die skool opgedaag, die slotte verander en haar uitgeskop. Sy was Sondag die laaste keer by die skool.

In die foto hierbo: Kinders kry les in Zamandulo Rejoice Nxum se saamgeflansde skool

Fotobron: Everson Luhanga