Eet saam met beroemdes in Yeoville se geheime kos-mekka

Deur Khaya Ndaba

Een van die versteekte juwele tussen Johannesburg se gunsteling-eetplekke is die Yeoville Dinner Club.

Die klub, wat in 2016 deur Sanale “Sanza” Sandile gestig is, word in die gemak van sy eie eetkamer bedryf, met plaaslike en internasionale besoekers wat aansit vir spogdisse wat deur Sanale self voorberei word.

Groot geeste uit die internasionale kuns- en vermaakwêreld het al by die klub draaigemaak, onder meer Antony Bourdain – voor sy ontydige dood ’n wêreldberoemde koskenner, skrywer en programaanbieder op CNN – en Dave Chappelle, een van die gewildste komediante in die wêreld.

Soos Sanele dit stel: “Die klub is ’n ruimte vir vriende, en ’n plek waar mense met uiteenlopende lewenservaringe kan ontmoet. 

“Die ruimte is met opset klein en intiem. Ons bedien soveel as 18 mense by een groot tafel, sodat hulle kan gesels en idees en gedagtes uitruil.”

Sy vernaamste aansporing vir die klub was om mense in te lig oor Yeoville se ryke kulturele geskiedenis, mense en kulinêre invloede.

Een van die gereelde gaste, Valerie Makoala, beskryf die kos as “betowerend”.

“Die eienaar is so passievol, en neem jou met elke maaltyd op ’n geskiedkundige reis. He gesels met almal aan tafel, bedien self die kos, en die atmosfeer is huislik en vrolik. Daar word baie gelag. Ek geniet werklik die kos en die ervaring,” het sy gesê.

Die spyskaart bestaan uit tradisionele disse van oraloor Afrika, asook vegan-disse.

“Ons bedien baie disse wat eie is aan Afrika, soos onkonvensionele gebraaide vis, afval, kluitjies, bokkop. Daar is ’n groot verskeidenheid nagereg; ons tuisgemaakte palmwyn, en vegan-opsies,” sê Sanele. 

Hy bied die etes eenmaal per week by sy huis in Yeoville aan.

In die foto hierbo: Een van Sanza se smulkos-byeenkomste

Fotobron: Verskaf