Deur Doreen Mokgolo en Everson Luhanga
Drie booswigte het Sondag ’n operasionele bevelvoerder van die Temba Polisiestasie in Soshanguve, Tshwane, gekaap en beroof, en gedwing om Winterveld toe te bestuur.
Nou eis woedende inwoners dat die Minister van Polisie, Bheke Cele, ’n prioriteit daarvan maak om misdaad in Winterveld te bekamp.
Die bevelvoerder het glo twee misdaadslagoffers huis toe geneem nadat hulle verklarings afgelê het. Hulle het gesê hulle het nie taxigeld nie.
Nadat hy die tweede slagoffer afgelaai het, is hy deur drie gewapende mans oorval.
Die Nasionale polisie-segspersoon, Brigadier Athlenda Mathe, het gesê hulle het hom gedwing om Winterveld toe te ry, waar hulle hom van sy selfoon en kontant beroof het.
Brigadier Mathe het gesê die polisie is op soek na die drie verdagtes. “Ons vra die publiek om met enige inligting na vore te kom.”
’n Inwoner, Thomas Nokeri, het gesê misdaad in die gebied raak so erg dat daar elke tweede dag ’n kar gesteel of gekaap word. “Hulle word dan iewers laat staan, of op een van die persele hier versteek.
“Misdadigers teiken nou wetstoepassers. Dis onmoontlik om mediese nooddienste sonder polisiebeskerming hier te kry om pasiënte op te laai, omdat hulle andersyds gekaap en beroof word,” het hy gesê.
“Watse tipe gemeenskap word ons?”
Maria Skhosana, ook ’n inwoner, sê hulle vra dat die polisie en die Minister van Polisie om misdaadbekamping in die gebied dringend as ’n prioriteit te stel.
“Ná donker moet ons onsself in ons huise toesluit omdat ons bang is voortvlugtige misdadigers kom skuil daar en ’n dwaalkoeël tref ons as daar ’n skietgeveg uitbreek,” het sy gesê.
“Ons kan ook nie toelaat dat misdadigers die gebied as ’n stoorplek vir gesteelde goedere sien nie.”
In die foto hierbo: Die gekaapte polisievoertuig nadat dit teruggevind is
Fotobron: Verskaf