Stryd teen Koning Mswati woed voort ná moord

Deur Lungani Zungu

Onderwyl eerbetuigings instroom vir die menseregte-prokureur Thulani Maseko, wat Saterdag in eSwatini vermoor is, het pro-demokrasiegroepe Koning Mswati III uitgedaag om hulle aan te durf.

Hierdie groepe het openlik vinger na Koning Mswati gewys as die persoon wat bevel gegee het dat Maseko doodgemaak word.

Die koning het nog nie op dié beskuldigings gereageer nie.

Vusi Shongwe, president van die Swazilandse Mensevryheidsbeweging, het gesê hulle sal eerder sterf as om hulle strewe na vryheid in eSwatini prys te gee.

“Ons het dié begin en ons gaan dit klaarmaak. As ons ook moet sterf, is dit maar so. Ons broer Maseko is bly ons sit die stryd teen die regering en die koning voort,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.

Shongwe, wat uit eSwatini moes vlug, sê die moord op Maseko sal nie die pad na demokrasie versper nie.

“Dit is tyd dat meer lande ons bystaan in ons strewe na ware demokrasie,” het hy gesê.

Mduduzi Simelani, president van die Swazilandse Vryheidsbeweging, het gesê hulle het geen twyfel dat die koning agter die moord sit nie.

“Maseko was een van ons bestes,” het Simelani aan NewzRoom Africa gesê.  

Die Regsvereniging van Swaziland, waaraan Maseko behoort het, het hulle sterk uitgespreek teen die “lafhartige moord” op Maseko.

“Die omstandighede om Thulani se dood verg ’n vinnige en deeglike ondersoek, wat die waarheid moet blootlê en sorg dat die betrokkenes tot verantwoording geroep word,” lui ’n verklaring wat die vereniging uitgereik het.

Oor Maseko se dood het Thuli Madonsela, Suid-Afrika se voormalige Openbare Beskermer, gesê: “Ons kan nie meer ons oë sluit wanneer mense vermoor word nie.”

Enkele ure nadat Koning Mswati III na bewering aan sy helpers gesê het die koning se vyande moet met hulle lewens boet, is Maseko in sy huis in Luyengo doodgeskiet.

Maseko se probleme het is 2014 begin toe hy opgesluit is vir minagting van die hof oor artikels waarin hy die regering en die regbank gekritiseer het.

Die mense van eSwatini veg al jare lank om Koning Mswati se lang heerskappy tot ’n einde te bring. Protesaksie het in 2021 opgevlam, maar is gewelddadig deur die polisie en die weermag onderdruk.

In die foto hierbo: Thulani Maseko, die prokureur vir menseregte wat Saterdag vermoor is.

Fotobron: Eswatini Newsroom