Jy sal verbaas wees oor wat mens met net tamatiesous, knoffelpoeier en Maggi aftrekselblokkies kan vermag.
Jy kan dalk nie ‘n kits-ete optower nie, maar ‘n 47-jarige seiljagvaarder het 24 dae op die oseaan oorleef met net daardie drie items.
Elvis Francois van Dominica het gesê sy beproewing het in Desember begin terwyl hy besig was om sy boot te herstel naby die eiland St Martin in die Nederlandse Antille. Strome het skielik sy seilboot diepsee toe gespoel.
In ‘n video het hy gesê hy het geen kos aan boord van die vaartuig gehad nie – net tamatiesous, aftrekselblokkies en knoffelpoeier.
“So ek meng dit toe met ‘n bietjie water,” vertel hy.
In die video wat deur die Colombiaanse vloot vrygestel is, het Francois gesê hy het sy vriende gebel. Hulle het toe probeer om met hom in verbinding te tree.
“Maar ek het sein verloor en kon niks anders doen as om te sit en wag nie.”
Hy moes voortdurend water uit die boot skep om te keer dat dit sink. Hy het ook probeer om ‘n vuur aan te steek in ‘n poging om ’n noodsein te stuur – sonder sukses.
Maar gelukkig het ‘n vliegtuig die sein gewaar wat hy met ‘n spieël geflits het.
AP News het Francois se redding deur die Colombiaanse vloot beskryf.
‘n Verklaring wat Woensdag deur die vloot uitgereik is, lui dat die seilboot 120 seemyl noordwes van La Guajira-skiereiland uit die lug opgemerk is.
Amptenare het gesê die woord “help” in Engels, wat hy op die boot se romp gekrabbel het, was die sleutel tot sy redding.
Nadat hy opgemerk is, is hy opgepik en deur ‘n verbygaande vragskip na die hawestad Cartagena geneem.
Colombiaanse bevelvoerder Carlos Urbamo Montes het gesê Francois is in goeie gesondheid gevind, maar dat hy gewig verloor het.
Op ‘n video wat die vloot vrygestel het, het Francois gesê hy het êrens langs die pad hoop verloor en die enigste ding wat hom aan die lewe gehou het, was sy gesin; die gedagte aan hulle het hom krag gegee, het hy gesê.
Hy het ook die kuswag bedank.
“As dit nie vir hulle was nie, sou ek nie hierdie storie kon vertel nie,” het hy gesê.
Die vloot het gesê Francois het ‘n mediese ondersoek aan wal ondergaan en is toe aan immigrasie-owerhede oorhandig vir sy terugkeer na Dominica.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
Op die foto hierbo: ‘n Man wat 24 dae lank in die Karibiese See rondgedopper het
Fotobron: AP News