Gemeenskap neem wraak na sterftes veroorsaak deur kabeldiefstal

Deur Zavela Makwabe

Toe twee jong diewe verlede week net 12 meter koper uit die Cecilia Makiwane-hospitaal in Mdantsane gesteel het, het hulle nie kon raai watter chaos hul daad sou ontketen nie.

Die diefstal het verskeie kragonderbrekings by die hospitaal veroorsaak, en so die lewens bedreig van baie van sy siekste pasiënte.

Mense wat ernstig siek is benodig ventilators om aan die lewe te bly. Menige verswakte pasgebore babas is afhanklik van masjiene wat deur elektrisiteit aangedryf word om hul harte te laat klop.

Toe veiligheidswagte dus Dinsdag ‘n ontploffing buite die hospitaal hoor, het hulle na die toneel gehardloop en gesien hoe twee mans oor die heining spring met koperkabels om hul nekke gedrapeer.

Dit was die tweede keer in minder as ‘n week dat daar met die hospitaal se elektrisiteit gepeuter is. Die vorige Vrydag was die krag vir ure lank af – en nié as gevolg van beurtkrag nie.

Hierdie keer het ‘n woedende Mdantsane-gemeenskap die strate ingevaar. Hulle het die skuldiges geïdentifiseer nadat hulle ‘n video op sosiale media gesien het van twee mans wat spog dat hulle kabels by ‘n hospitaal geroof het.

Dit het hulle nie lank geneem om die verdagtes vas te trek nie. Die gepeupel het een van hulle doodgeslaan en ‘n ander in die hospitaal laat beland. Hy bly onder polisiebewaking totdat hy gesond genoeg is om in hegtenis geneem te word.

Die storie agter die tragedie betrek glo ‘n skrootwerfeienaar, volgens die woedende gemeenskapslede wat “die waarheid” uit die twee vermeende kabeldiewe geslaan het.

Die vrou wat die skrootwerf bestuur stel blykbaar daarin belang om gesteelde kabels te koop, en het daarom die gepeupel se volgende teiken geword.

Gemeenskapslede het die naweek probeer om haar huis af te brand. Die polisie het net betyds ingegryp en die vrou in hegtenis geneem vir die aankoop van gesteelde skrootmetaal.

Polisiewoordvoerder Brigadier Thembinkosi Kinana het bevestig dat hospitaalwagte twee jeugdiges oor die hospitaalheining sien spring het ná ‘n “groot ontploffing” verlede Dinsdag by die hospitaal in Mdantsane.

Gereedskap, insluitend ‘n piksteel en ‘n graaf, is op die toneel opgemerk, en sowat 12 meter se kabel was vermis.

Hy het gesê kort nadat ‘n werknemer van die hospitaal Donderdag ‘n saak geopen het, het die polisie inligting ontvang dat lede van die plaaslike “gemeenskapsforum” twee jeugdiges wat verdink word van kabeldiefstal in hegtenis geneem het.

Lede van die forum was ook gereed om ‘n huis aan die brand te steek, maar die polisie is na die adres gestuur en die huis is gered.

Hy het gesê die polisie ondersoek nou ‘n saak van beskadiging van infrastruktuur en diefstal van elektriese kabels.

Tydens ‘n vergadering wat Sondag gehou is, het die gemeenskap besluit om alle skrootwerwe in die Mdantsane-omgewing te sluit om ‘n herhaling van die tragedie te voorkom.

Op die foto hierbo: Die twee verdagtes kort nadat hulle deur die skare aangekeer is

Fotobron: Facebook