‘Ek het nog net in flieks meer skote gehoor’

Deur Buziwe Nocuze

Die gemeenskap van Gugulethu het min twyfel dat bendes betrokke was by ’n skietery waarin drie mense Sondag dood is.

Zameka Zweni, 39, was op pad huis toe toe sy skote gehoor het. “Ek het nog nooit in my lewe meer skote gehoor buiten in ’n fliek nie, en ek kan nog steeds nie glo dis waar nie.”

Sy wou gaan kyk wie geskiet is, maar was bang om deur ’n dwaalkoeël getref te word.

“Ek het gehardloop en in ’n huis langs ’n winkelsentrum gaan skuil. Toe dit stil raak, het ek gaan kyk wie geskiet is.”

Sy was nie verbaas om twee mense dood te sien lê nie.

“Die twee mans is dood in ’n kar, ’n ander een is inderhaas hospitaal toe geneem.” Dié man is later aan veelvuldige skietwonde dood.

’n Lid van die gemeenskap, wat nie geïdentifiseer wil word, nie dink die insident spruit uit konflik oor beskermingsfooie. “Ek het mense dit hoor sê , en ons almal weet wanneer iets soos dié in ons gebied gebeur, is dit altyd dwelms of beskermingsfooie.”

En noudat dit begin het, sê hy, gaan dit nie ophou nie.

“Almal wil geld verniet hê, en baklei dan daaroor. Ek weet nie wat die rede is nie. Dit eindig nooit goed nie, en ek wens die regering wil iets doen om dit stop te sit.”

Toe Scrolla.Africa die toneel besoek het, was die forensiese afdeling van die polisie daar. Hulle het meer as 40 koeëls gevind.

Lonwabo Tyeku, ’n inwoner, is verlig dat die skietery oor ’n naweek plaasgevind het.

“Daardie pad is baie besig. As dit in die week gebeur het, sou baie meer onskuldige mense betrek geword het.”

Sy sê die gebied is deesdae soos ’n oorlogsone, met mense wat soos vlieë doodgaan.

Die Weskaapse polisie-segspersoon, Brigadier Novela Potelwa, het gesê ’n drievuldige moordondersoek is ingestel. Die drie slagoffers was tussen 28 en 30 jaar oud.

Enigeen met inligting oor die skietery wat met die ondersoek kan help, word gevra om die polisie by 08600 10111 om met MYSAPSApp te kontak.

In die foto hierbo: Polisielede fynkam die moordtoneel in Gugulethu vir leidrade

Foto: Buziwe Nocuze