Deur Lungi Langa
’n Vier-en-dertigjarige vrou van Manguzi is tot 20 jaar agter tralies gevonnis nadat sy probeer het om ’n elfjarige kind aan ’n tradisionele geneser vir muti te verkoop.
Die streekshof in Ingwavuma het Mpume Mabika gevonnis ná haar skuldigbevinding.
Mabika het James Mthembu, 61, ’n plaaslike geneser, in Junie 2016 gekontak en gesê hy kan ’n seun met albinisme by haar koop om vir muti te gebruik.
Sy wou R100 000 hê vir die seun, ’n verlangse familielid se kind.
Mthembu het gesê hy onthou nie die presiese datum van Mabika se oproep nie, maar wel hulle gesprek, asof dit gister was.
“Dit was kort voor negeuur die oggend toe sy gebel en gesê het sy het ’n albino-kind te koop,” het Mthembu gesê.
Die tradisionele geneser het geweet as hy die kind se lewe wou red, sou hy moes voorgee dat hy daarin belangstel om hom te koop. Hy het gemaak of hy met haar onderhandel.
“Sy het toe gesê sy sal die kind doodmaak en vir my bring. Ek het gesê sy moet hom nie doodmaak nie, ek sou dit self doen.”
“Ek was geskok. Ek het vier ure alleen deurgebring. Daarna het ek vir my vrou vertel en ook ’n vriend gebel. Hy is ’n verkeerspolisieman ek kon my met die polisie in verbinding bring om die voorval aan te meld.”
Die polisie het gemeen dit sou dalk help met ’n saak waarmee hulle besig was, van ’n ander kind wat verdwyn het. Hulle het ’n plan beraam het om ’n lokval vir Mabika te stel, met ’n belofte dat hulle vir die kind sou betaal.
Mthembu, wat in die noordelike dele van KwaZulu-Natal daarvoor bekend is dat hy uitpraat teen die gruwelgedagte om mense met albinisme te vermoor vir muti, het gesê hy en die polisie het bekommerd geraak toe Mabika nie binne die volgende vyf dae bel nie. Toe sy uiteindelik weer bel, het hulle die plan om haar te ontmoet in aksie omgesit.
Polisiemanne het hulle as burgerlikes voorgedoen en saam met Mabika rondgery, op soek na die kind. Sy het gesê as hulle vroeër daar was, sou hulle “die bok kon vang”.
Uiteindelik het sy hulle na die kind se huis toe geneem en vir hulle sy kamer gewys, sodat hulle hom later daardie aand kon ontvoer.
Volgens Mthembu is die polisie terug na die kind se huis toe. Hulle het hom daar gevind, en saamgeneem na Mabika toe om te hoor of dit die regte kind was. Nadat sy dit bevestig het, is sy op die daad in hegtenis geneem.
“Kan jy jou verbeel dat sy aangebied het om drie kinders aan my te verkoop, wat ’n tweeling ingesluit het, almal met albinisme, vir R300 000 – R100 000 per kind? Ek kon nie glo dat iemand laag genoeg kon daal om ’n ander mens vir daardie doel te verkoop nie,” het Mthembu gesê.
In hofdokumente het die ma van die kind gesê haar seun lewe sedert die voorval in vrees. Sy laat nie toe dat hy die erf verlaat nie, en hou hom onder oë.
Advokaat Elaine Zungu, Direkteur van Openbare Vervolgings in KwaZulu-Natal, het die vonnis verwelkom, en gesê hulle hoop dit sal die gedagte dat mense met albinisme vermoor en vir muti gebruik kan word in die kiem smoor.
In die foto hierbo: Mpume Mabika, wat 20 jaar tronkstraf opgelê is nadat sy ’n elfjarige seun vir muti probeer verkoop het.
Fotobron: IOL