Deur Everson Luhanga
‘n Geleentheid wat as “after tears” bekend staan het Saterdag in ‘n moorkuil verander na ‘n rusie tussen twee mans in Tembisa se Phomolong-afdeling.
Na die begrafnis van Spamandla Henry Mazibuko, 43, wat Dinsdag aan natuurlike oorsake dood is, het rouklaers huis toe gegaan vir ‘n samekoms ná die trane, waartydens hulle kon ontspan en ‘n drankie geniet.
Maar dinge het ontvlam toe twee mans in ‘n hewige argument betrokke geraak het.
In die proses is een man dood en die tweede een, wat daarvan beskuldig word dat hy die eerste man geskiet het, is aan die brand gesteek. Hy is nou in die hospitaal onder polisiebewaking, met ‘n aanklag van moord wat oor sy kop hang.
Mazibuko se familie, wat hulle voorberei het om vir laas van hom afskeid te neem, is sprakeloos gelaat deur die verskriklike gebeure.
Scrolla.Africa het met Spamandla se suster, Sthabile Manyathi, gepraat. Sy was teenwoordig by die geleentheid nadat haar broer begrawe is.
“Ek was in die huis op die matras,” het sy gesê.
“Ek weet nie waaroor die mans gestry het nie, maar al wat ek uit die huis gehoor het, was die geluid van skote en toe mense wat skreeu.
“Almal in die huis was geskok, en het uitgegaan om te kyk wat aangaan.”
Sy sê hulle het afgekom op tonele van absolute chaos.
“’n Man wat in dieselfde straat bly en my broer kom begrawe het, het dood in ‘n plas bloed gelê. Hy is drie keer geskiet.”
Sy het nog probeer verstaan wat gebeur het toe ‘n groep roubeklaers, vergesel deur inwoners van die gebied, die vermeende moordenaar agternagesit het.
“Hulle het hom aangekeer, geslaan, paraffien oor hom uitgegooi, en hom aan die brand gesteek.”
Mense het gejuig en geskree terwyl hulle gekyk het hoe die man brand.
Alles wat hy aangehad het, is verbrand.
Sy sê toe die brandende man ‘n polisievangwa sien naderkom, het hy hom daarheen gehaas, self die deure oopgemaak en die polisie gevra om vinnig met hom te verkas.
“Toe hy in die polisievangwa spring, het hy geen klere aan sy lyf gehad nie en hy was erg verbrand.”
Die polisie het met hom na Tembisa Hospitaal toe gejaag. Mense wat die man in die hospitaal besoek het, het aan Scrolla.Africa gesê dit sal ‘n wonderwerk wees as hy die derdegraadse brandwonde wat hy opgedoen het oorleef.
Rabie Ridge Polisiestasie se woordvoerder, Sersant Jacob Nhlongo, het die voorval bevestig en gesê die man staan tereg op aanklag van moord.
Op die foto hierbo: Die vermeende moordenaar se verbrande klere
Beeldbron: Verskaf